MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai is 'n tweeling ryker. Dié seun en dogter van Karen (43) en André (47) Swanepoel, klein Desiré en Reynard is op 14 September in George gebore. Die Mossel Bay Advertiser het vroeër berig oor Karen se hartseer verlede. Sy het ses jaar gelede haar man, Schalk (39) en twee kinders, Jeanelle (5) en Juan (2) in 'n noodlottige motorongeluk op 10 Januarie 2012 buite Ventersburg op die N1 aan die dood afgestaan.
Karen, die enigste oorlewende, het tydens die voorval ernstige beserings opgedoen en haar lewe het binne 'n oogwink verander.
Sy het na die voorval na Mosselbaai getrek omdat haar ouers hier gewoon het, waar sy vir André in 2014 ontmoet het.
Hulle is sedertdien getroud. Vandag is Karen se huis op Mosselbaai weer vol en nadat die tweeling vir vyf weke in die Mediclinic in George moes aanbly, is die boetie en sussie uiteindelik tuis.
"Op 33 weke het ek die oggend opgestaan en my gesig was geswel.
"Ek en André het my bloeddruk laat toets en dit was hoog. Ek is bietjie vroeër na my ginekoloog en hy het my onmiddelik laat opneem. Gelukkig was my tassies gepak.
"Hulle is altwee gesond en Reynard het 2,77kg geweeg by geboorte en Desiré 2,22kg." Die Swanepoel-huishouding woel behoorlik en ma en pa hou elk 'n baba vas. "Die eerste drie nagte was erg maar ek kon darem by die werk afvat," sê André.
"Die ryery George toe om hulle te voed was nogal erg en ons is net bly hulle is nou by die huis." Om kinders by hulle in die huis te hê was vir die Swanepoel-egpaar albei 'n begeerte.
Karen het 'n boek begin skryf nadat sy haar gesin verloor het en die laaste hoofstuk van die boek is met die koms van die tweeling se geboorte dus nou amper voltooi.
Na als sing Karen 'n loflied en kan sy van die hoop in haar lewe getuig.
Lees 'n vorige artikel: 'n Loflied na vrou haar gesin verloor het
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'