MOSSELBAAI NUUS - Twee mense het gedurende die feesseisoen in die Mosselbaai-omgewing verdrink.
In die eerste voorval op 27 Desember het die 9-jarige Friedel Buys van Buisplaas in 'n rivierloop naby sy huis verdrink nadat hy om 18:00 saam met vriende gaan swem het.
Volgens die woordvoerder van die Mosselbaai-polisie, ao Pieter Koekemoer het Buys se vriende eers om ongeveer 20:00 aan Buys se familie vertel wat gebeur het.
Polisieduikers is na die toneel ontbied maar het die soektog na Buys afgestel omdat die omstandighede in die donker vir polisieduikers te gevaarlik was. Buys se liggaam is die volgende dag gevind.
Glentana
Op Vrydag 5 Januarie het 'n 51-jarige inwoner van Rheebok, Gavin de Villiers, in die see by Glentana verdrink.
Volgens die polisie het De Villiers saam met sy seun om 14:10 op 'n kajak geroei terwyl sy vrou en hul ander kinders op die strand was.
'n Golf het na bewering die kajak omgeslaan. Polisie sê die seun kon daarin slaag om na die strand terug te swem.
Lewensredders het De Villiers te hulp gesnel en hom na die strand geneem. Drie dokters wat toevallig op die strand was het probeer om die man by te bring maar hy is op die toneel dood verklaar. Die polisie op Groot-Brakrivier het 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
Die voorsitter van Eden Life Saving, Gerald de Jager sê die twee verdrinkings was buite lewensredders se bedieningsarea. "Die Glentana voorval was nie in die swemgebied nie en uit die aard van die saak was daar nie lewensredders by die rivierloop nie."
De Jager sê dit was 'n goeie seisoen vir sy lewensredders en sê hoewel daar 'n aantal amper-verdrinkings was, die lewensredders hulle goed van hul taak gekwyt het en swemmers wat in die moeilikheid beland het na veiligheid gebring het.
"Ons is baie tevrede met hoe die seisoen verloop het. Die swemmers het ons lewensredders gerespekteer op al die swemstrande en ons voel tevrede."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'