MOSSELBAAI NUUS - Twee mans is tans in aanhouding by die Da Gamaskop-polisiestasie nadat hulle vanoggend, op Maandag, 19 April in hegtenis geneem is in verband met die wrede moord van ‘n 39-jarige Mosselbaaier.
Die polisie op KwaNonqaba het gister, op Sondag, 18 April op die erg beseerde man afgekom. Hy het in die pad in KwaNonqaba gelê.
By nadere ondersoek het die polisie gesien dat hy minstens agt steekwonde oor sy liggaam het.
Die slagoffer is op die toneel dood verklaar. Sy identiteit is nog nie bekend gemaak nie.
Die polisie se kommunikasiebeampte, sers Kappie Kapp sê hulle het vanoggend die twee verdagtes, ‘n 22-jarige man, en ‘n 24-jarige man op Mosselbaai in hegtenis geneem.
Die verdagtes sal more in die Mosselbaai Landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'