Tuine in die Tuinroete is 'n projek om plaaslike inwoners aan te spoor om tuin te maak.
Baie besoekers aan die streek vra die vraag 'waar is die tuine van die Tuinroete dan?'. Tuintoere het 'n baie gewilde toerisme-aantreklikheid geword in verskeie lande wêreldwyd en met ons groot verskeidenheid inheemse plante in die streek, is dit presies wat beoog word.
'n Besliste hoogtepunt was die besoek van die bekende JJ van Rensburg van Garden World in Gauteng.
JJ gesels elke Saterdagoggend op RSG met Derick Gardner en is al vir die afgelope 20 jaar passievol aktief by tuinmaak.
Na 'n gesellige ontbyt by die volgepakte Cattle Baron-restaurant, het JJ die teenwoordiges laat skater met sy kwinkslae en staaltjies.
Die tema van sy gesprek was eetgenot uit die klein tuin, waarin hy verduidelik het hoe maklik dit is om groente te kweek.
'n Belangrike aspek is om 'n lokplant te plant sodat insekte deel kan wees van die tuin. Kennis oor watter plante in son en skadu floreer is ook baie belangrik. Mens moet altyd in gedagte hou dat jou tuin eie aan jou moet wees en moet aanpas by jou leefstyl. Kinders moet betrek word by die maak van tuine, sodat 'n liefde vir tuinmaak by hulle sal posvat.
Grondvoorbereiding vir die aanplant van enige plantmateriaal is kardinaal. Goeie kompos, asook beenmeel en 'n kunsmis is nodig.
Deesdae vorm wurmboerderye 'n groot aandeel in die tuinmaakproses en word dit aangemoedig.
Plantmaats help nie net met die versiering in die tuin nie, maar ook met die groei en behandeling van die plante.
Deur byvoorbeeld 'n roos in die groentetuin aan te plant, kan jy vinnig sien as die roos 'n siekte het voordat die groente aangetas word en so voorkomende beheer toepas.
'n Lys van plant maats kan afgelaai word by www.livingseeds.co.za/companion-planting.
Boererate wat werk in die tuin is, onder andere:
- Om vrugtevlieë te vang: Sny 'n plastiese bottel min of meer in die helfte oop. Maak 'n gaatjie in die prop en plaas appelasyn of bietjie vrugtesap in die bottel. Plaas die propgedeelte onderstebo in die onderste deel en vrugtevlieë sal deur die appelasyn gelok word, inval en nie kan ontsnap nie.
- Om muskiete te vang kan dieselfde metode gebruik word, maar koeksoda gemeng met bie-tjie water moet gebruik word.
- Om slakke te vang: Sny 'n 'deurtjie' in 'n leë 2-liter koeldrankbottel en plaas slakpille binne. Op dié wyse word die slakpille nie nat nie en word al die dooie slakke bymekaargehou.
- Om vlooie in die tuin te beheer, kan mint aangeplant word.

JJ van Rensburg van Garden World bekyk die kitstuintjie-inskrywings

Shagan Kiewiet het die tweede prys gewen

Monique Viviers met haar wentuintjie
ARTIKEL EN FOTO'S: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER-KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'