Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ten spyte van die aankondiging die afgelope week deur president Cyril Ramaphosa dat alle strande aan die Tuinroete vanaf 16 Desember tot 3 Januarie sluit, motiveer die Mosselbaai-munisipaliteit vakansiegangers en inwoners om positief te bly en steeds Mosselbaai se besienswaardighede te besoek.
"Inwoners en besoekers moet besef dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens, en nie die munisipaliteit nie, die mandaat ingevolge die Rampbestuurswet het om die gepubliseerde regulasies toe te pas," sê Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal.
Inwoners was geskok toe Ramaphosa op Maandag, 14 Desember aangekondig het dat alle strande aan die Tuinroete, wat intussen as 'n Covid-19-brandpunt verklaar is, sluit.
Woordvoerder van die Garden Route- distriksmunisipaliteit, Herman Pieters het bevestig dit sluit strande vanaf Hessequa tot Bitou (Heidelberg tot voor Stormsrivier) in.
Intussen moedig die munispaliteit inwoners en besoekers aan om steeds die vakansie op Mosselbaai te geniet. "As daar ooit 'n tyd was om die Tuinroete te ondersteun, is dit nóú," sê munisipale woordvoerder, Nickey le Roux.
Besienswaardighede
Le Roux sê die munisipaliteit ondersteun plaaslike ekonomiese ontwikkeling en nooi daarom besoekers om die talle sakpas-aantreklikhede, onder meer die talle staproetes in die ongeskonde natuur en langs die wandelpaaie teen die kus te geniet. "Mosselbaai is die avontuurhoofstad van die Tuinroete en bied unieke besienswaardighede en verskeie avontuuraktiwiteite wat ongeëwenaarde herinneringe en ervarings waarborg." Vissermanne met die relevante permitte kan steeds 'n lyntjie langs die kus natmaak en diepseevisvangervarings saam met professionele vissersbootekskursies is steeds moontlik. Boonop is talle van die aktiwiteite in die baai, onder meer branderplankry nie taboe nie. Riviermondings, strandmere, kaaie, lanseerplekke en die oop kuswaters is steeds toeganklik.
"Met pragtige riviere in die groter Mosselbaai kan die jongklomp steeds heerlik in die rivierwater baljaar en selfs sandkastele op die rivierbanke bou."
Waterparke
Waterparke in die munisipale area is steeds oop.
Die dorp se restaurante is ook oop hoewel inwoners moet hou by die aandklokreël vanaf 22:00 saans tot 04:00 soggens.
"Mosselbaai bied steeds die talle markte waar inwoners en vakansiegangers daardie sakpas of unieke geskenke kan uitsnuffel. Beide die markte in die Harry Giddey-park asook in Wolwedans gaan voort, asook die tradisionele straat- en aandmarkte," sê Le Roux.
Hofaansoek
Intusssen het AfriForum, die Groot-Brakrivier-sakeforum en Louis Cook, voorsitter van die gastehuisgilde 'n dringende hofaansoek ingedien teen die besluit wat Maandag deur die president aangekondig is om strande te sluit.
Hulle sê die besluit is ongrondwetlik en irrasioneel. Die aansoek word op 22 Desember aangehoor.
* Lees Mosselbaai munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee se jongste nuusbrief oor dié aangeleentheid hier.
Kyk 'n video hieronder:
Janie en Retha Grobler van Witbank geniet 'n ligte oomblik by die Punt op Mosselbaai toe Retha haar roomys wou eet maar van haar masker vergeet het. Foto: Jannie du Plessis
Vakansiegangers op Hartenbos behou hul humor tenspyte van die besluit dat strande aan die Tuinroete moet sluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'