TUINROETE NUUS - Inenting van mense oor 60 jaar wat in die Tuinroete woon, het op Dinsdag 25 Mei by Groenkloof-aftreeoord begin waar 400 mense die Pfizer-entstof teen Covid-19 ontvang het.
Die Tuinroete-distrikskantoor van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het Fase 2 van die Covid-19-inentingsprogram afgeskop deur mense ter plaatse by ouetehuise en aftreeoorde in te ent.
"Sodra openbare inentingspersele open vir die res van die mense in hierdie ouderdomsgroep, sal dit aangekondig word," het die distrikswoordvoerder, Nadia Ferreira gesê. Entstowwe word weekliks ontvang en slegs Pfizer is tans beskikbaar.
'n Tagtigjarige inwoner van Groenkloof, Kitty Rossouw, was die eerste persoon van die publiek in die Tuinroete om ingespuit te word. "Ek is bly my kans het uiteindelik gekom. Ek wil my kinders besoek en veilig voel wanneer ek dit doen," het sy gesê.
Charl Collins, versorgingsbestuurder by Groenkloof, het gesê 750 van hul inwoners het geregistreer. "Daar was slegs 400 dosisse beskikbaar en ons moes die lys korter maak. Ons gee die oudste inwoners eerste kans. Dié wat die entstof kan ontvang, is baie dankbaar."
Die aftreeoord het inderhaas 'n nuwe gebou, wat die toekomstige kapel en restaurant gaan huisves, in gereedheid gebring om as inentingsperseel te dien.
Rossouw is een van 81 980 persone oor 60 wat in die Tuinroete woon. Volgens Zee Brickles, die departement se distrikshoof, is hulle bekommerd oor die trae pas van registrasie in sommige subdistrikte. In Knysna het 56% geregistreer, Mosselbaai 50%, Hessequa 46%, Bitou 40%, George 33%, Kannaland 27% en Oudtshoorn 52% (syfers soos op 25 Mei).
Ander aftreeoorde wat ook hierdie week in George aan die beurt kom, sluit in Kraaibosch, Blue Mountain, Lyttelton, Rosemoor-dienssentrum en Rosemoor-ouetehuis, asook Bethesda se intermediêre-versorgingsafdeling. Alle ouetehuise sal uiteindelik besoek word.
Brickles het gesê inenting van die res van die distrik se geregistreerde bo-60-groep sal gedurende Junie by die subdistrikte se persele begin.
"Dit hang alles af van die aantal entstofdosisse wat ons ontvang en wanneer ons hulle ontvang. Ons sê dankie aan die ouetehuise en ander rolspelers vir hul samewerking en ondersteuning. Ons vra ook dat familie en vriende hul geliefdes ouer as 60 jaar help om te registreer vir hul inenting. Dis belangrik om hulle te beskerm teen ernstige Covid-19-simptome."
Brickles het 'n beroep op inwoners gedoen om nie net op te daag by 'n inentingsentrum voordat hulle die SMS ontvang het wat hulle afspraak (datum, perseel en unieke kode) bevestig nie.
"SMS-boodskappe sal 'n paar dae voor die tyd uitgestuur word sodat kliënte die nodige reëlings kan tref." Volgens 'n verklaring van die Wes-Kaapse departement van gesondheid vroeër die week behoort die meeste geregistreerde persone hul SMS'e binne twee tot drie weke te begin ontvang..
Kitty Rossouw (80), 'n Groenkloof-inwoner, het haar inenting ontvang van Rabanya Lebone.
Aktiewe gevalle in die Tuinroete
Brickles het gesê die Covid-19-getalle in die Tuinroete is "nog redelik laag en onder beheer". "Maar ons versoek ons gemeenskappe om voorkomende maatreëls vol te hou."
Die totale aantal sterftes staan tans op 1 364. In die Tuinroete luier die getal aangetekende aktiewe gevalle rondom 300.
Op Dinsdag 25 Mei het dit op 274 gestaan - George 83, Mosselbaai 60, Oudtshoorn 53, Bitou 38, Knysna 19, Hessequa 12 en Kannaland 9. Verlede week Dinsdag was dit 322 en die vorige week 294.
Charl Collins, Groenkloof-aftreeoord se versor- gings-bestuurder.
Nuwe beperkings verwag
Nasionale gesondheidsminister, Zweli Mkhize, het vandeesweek gesê nuwe beperkings is onafwendbaar in die lig van die naderende derde golf.
Die land ervaar tans 'n skerp toename in nuwe gevalle. In die Noord-Kaap en Vrystaat is daar reeds erg druk op gesondheidsfasiliteite. Kommer heers onder kenners oor die hoë infeksiekoers in Gauteng en Noordwes.
Die nasionale Covid-19-beheerraad sou Dinsdag 25 Mei vergader om moontlike maatreëls te bespreek.
Floors Everts van Calitzdorp word gehelp om te registreer vir inenting.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'