MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai Tuinboukloub se maandelikse vergadering is onlangs op Jakkalsvlei, naby Herbertsdale gehou.
Hierdie juweel in Herbertsdale is van groot waarde vir die hele omgewing. Die lede het bymekaargekom by die Engen Mosselbay One Stop se Wimpy waar die eienaars Dirkie en Anne-Mari van Niekerk hulle soos altyd goed ontvang het.
Op Jakkalsvlei het Linda Klein, almal baie welkom geheet en Jantjie Jonker, eienaar en wynmaker bedank vir die voorreg om Jakkalsvlei te kon besoek.
'n Bottel Jakkalsvlei Rosé is uitgeloot en Mimmi Butler het gewen. Ander gelukstrekkings is ook oudergewoonte gedoen.
Jantjie Jonker het as gasspreker opgetree en ‘n insiggewende praatjie gegee het oor die druiweplant en hoe voeding in Jakkalsvlei se boord gedoen word. As gevolg van die droogte, het hul vanjaar soos baie ander boere minder druiwe kon oes. ‘n Druiweloot benodig baie water wanneer dit aangeplant word. Daarna wanneer dit bot, is water weer eens belangrik.
In motreen- en bedompige toestande, word wingerdvrot veroorsaak. Vanjaar was daar ook probleme met rolblaar en die takke moet dan uitgesnoei word. Snoeiskêre moet dan deeglik ontsmet word. As daar rolblaar is moet druiwetrosse met die helfte verminder word. Beesmis, kalium en kalk word in die wingerdgrond ingewerk.
Daar is ook etlike "bygelofies". Jantje vertel dat sy pa geglo het, jy mag nie voor volmaan snoei nie. Jantjie sorg net dat die wingerd teen 31 Augustus klaar gesnoei is. Onkruiddoder word voor 1 Oktober gespuit en teen die middel van Desember, moet enige swamme en donsskimmel behandel word. In droër jare is daar minder siektes. Baie reën in Januarie kan 'n probleem wees.
Jantjie het ook genoem dat voëls en bobbejane van die probleme in die boorde is. Volgens Jantje is die plant en oes van die druiwe nie die grootste uitdaging is nie, maar wel die maak van die wyn. Die suikergehalte van die druif bepaal wanneer dit gepluk gaan word en het ook 'n invloed op die gehalte van die wyn wat gemaak word.
Elke jaar het die publiek in die omgewing die voorreg om heerlike soet hanepootdruiwe in die wingerd te gaan pluk. Die tuinbouklublede het ook aan die plukkery deelgeneem en dit baie geniet.
Rodger Bennett het aan Jantjie een van sy eie bottles wyn, wat hyself gemaak het, geskenk.
"Ons volgende vergadering word gehou op 12 April om 09:30 by die pragtige Leani Kwekery, op die R102 - die ou pad na George. Kenneth Tyler gaan vir ons praatjie oor kruie gee."
'n Teedrinkfooi van R50 word gehef. Lede moet voor 9 April hulle teenwoordigheid bevestig.
Jantjie Jonker (derde van links), eienaar en wynmaker van Jakkalsvlei saam met lede van die tuinbouklub.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'