GROOT-BRAK NUUS - 'n Troosdiens word vanaand, 6 Desember om 19:00 vir die voorsitter van die Groot Brak-rugbyklub, Virgol Frans, gehou wat op die jong ouderdom van 44-jaar op Donderdag, 1 Desember, sy stryd teen kanker verloor het.
Die troosdiens word by Freezialaan 3, in Groot Brak gehou.
Dit word aangebied deur die Groot-Brak-rugbyklub wat rugbyspelers en ondersteuners aanmoedig om die geleentheid by te woon in enige klubdrag met die klubwapen op.
Frans, was 'n bekende inwoner in die Groot Brak omgewing en het groot planne gehad om die rugbyklub verder te ontwikkel.
Sersant Lauriane Botha, kommunikasiebeampte van die Groot-Brakrivier-polisie vertel: "Sy dood het die gemeenskap geruk. Hy was 'n legende in die Suid-Kaap, gerespekteerd en met 'n goeie sin vir humor. Hy het ook met die jongmense gewerk en van raad bedien. Hy was 'n baie geliefde persoon."
Die bestuur van die rugbyklub en die gemeenskap wil graag hulde bring aan Frans as 'n persoon wat respek gehad het vir sy familie en die mense in die gemeenskap. Hy het baie vir die rugbyklub se spelers opgeoffer en was vir hulle ook 'n mentor gewees.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brak, Tuinroete nuus'