Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Trane het vrylik by die bekendstelling van plaaslike skrywer, William Sam se nuwe boek Onvertelde verhale van SAKK Soldate gevloei.
Sam het in 2019 na die verskyning van sy geskiedkundige boek oor bruin soldate in die grensoorlog, My Loopbaan As Bruin Soldaat op die geselsprogram KLOP met Heinrich Wyngaard gesels.
Daarna het hy uit verskillende dele van die land navrae gekry het om bruin soldate se verhale te vertel.
By die boekbekendstelling op Sondag, 7 Maart het plaaslike oud-soldate en familielede van afgestorwe soldate die geleentheid gehad om hulle wedervaringe wat in die boek vervat is, te deel.
Vir Sam was dit 'n logistieke nagmerrie om landwyd onderhoude te voer en daarom het hy sy fokus plaaslik gemaak.
Sam het is sy toespraak gewaarsku dat die boek oor die hartseer en traumatiese wedervaringe van soldate tydens die destydse Suid-Afrikaanse Weermag en die grensoorlog in Angola, handel.
Sam het self trane in sy oë gehad toe hy vertel van tye wat hy saam met mede-veterane gehuil het terwyl hulle hul verhale met hom deel.
Niklaas Booisen het hierna vertel hoe hy onophoudelik mortiere vanuit die kamp op die vyand afgevuur het nadat sy makker reg langs hom geskiet is.
Verna Isaacs, wat verloof was aan JR Matthee by wie sy 'n kind gehad het, het vertel dat hulle voor hy grens toe is 'n troudatum vasgemaak het. Mathee kon egter nie pas kry vir die troue op 21 Junie nie. Op 22 Julie het sy tyding gekry dat hy op die grens doodgeskiet is. Sy het nooit weer getrou nie.
Phillip Jacobs het vertel dat hulle een aand net voor donker in "klaarstaan" gestaan het. Dit beteken dat daar geen beweging mag wees nie en dat daar dan seker gemaak word dat die basis veilig is. Jacobs sê dat as daar tydens klaarstaan beweging is, dan skiet jy. Twee kamerade, beide met die van Louw, was naby mekaar toe een van die Louws opgestaan en beweeg het. Die ander Louw het hom in die visier gekry en op hom losgebrand. Nadat almal hul wapens in daardie rigting gedraai het, skreeu iemand toe "eie magte". Een van die Louws is tydens die voorval doodgeskiet.
Laastens was Gordon Jacobs aan die woord en het vertel dat hy en sy makker in 'n bunker was. Die makker het hom gevra of hy bed toe gaan. Jacobs het aan hom gesê hy gaan sommer in die bunker slaap, want hy het later wagdiens. Sy makker, Jeffrey van Heerden vra hom toe of hy sommer in Jacobs bed kon slaap. Jacobs het ingestem.
Later het Jacobs net ligte gesien en toe reën die skote. Die volgende oggend is Van Heerden dood in Jacobs se bed aangetref nadat hy deur skrapnel getref is.
Die sprekers was dit eens dat hulle slegs deur die genade van God kans gesien het om hulle verhale te vertel. Nie een van hulle het berading met regeringshulp ontvang nie.
Kyk video's hieronder:
Verwelkoming en gebed
Debbie Benjamin doen die verwelkoming en Phillip Jacobs die gebed by die boekbekendstelling:
Dirk Kotze
Waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotze spreek die gaste toe by die boekbekendstelling.
Niklaas Booisen
Niklaas Booisen vertel hoe hy onophoudelik mortiere vanuit die kamp op die vyand afgevuur het nadat sy makker reg langs hom geskiet is.
Verna Isaacs
Verna Isaacs vertel hoe haar verloofde op die grens geskiet is en hoe sy die hartseer moes verwerk. Sy het nooit weer getrou en hul kind alleen grootgemaak.
Phillip Jacobs
Phillip Jacobs vertel hoe een van hul makkers die ander een geskiet het terwyl hulle in "klaarstaan" gestaan het een aand voor sononder.
Gordon Jacobs
Gordon Jacobs vertel hoe sy vriend, wat op sy bed geslaap het terwyl hy wag gestaan het, deur die nag deur skrapnel getref is.
Soldate en familie van soldate hier saam met William Sam met sy boekbekendstelling. Van links: Phillip Jacobs, William Sam, Gordon Jacobs, Verna Isaacs, Henry Kannemeyer, John Kees en Niklaas Booisen. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'