MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het met skok verneem van die afsterwe van Stoffel Fivaz (61) op Woensdag, 21 Oktober aan natuurlike oorsake.
Stoffel is deur baie as 'n anker en 'n steunpilaar in die gemeenskap beskou.
Hy het op die Fivaz-familieplaas net buite Vleesbaai, Excelsior, groot geword waar hy later ook self die boerdery saam met sy broer Flip oorgeneem het. Hy was in Laerskool Buffelsfontein, 'n plaasskool in die Vleesbaai-omgewing, en het aan die Hoërskool Punt in Mosselbaai gematrikuleer. Hy het vanaf 1981 tot 1990 altesaam 32 wedstryde vir die SWD rugbyspan gespeel, waartydens hy die rekord gebreek het vir die meeste drieë in een seisoen.
Stoffel was ook bekend vir sy inspirerende leierskapsvaardighede. Hy het vir baie jare op die beheerliggaam van Hoërskool Punt gedien as lid en ook as voorsitter. Hy het vir lank die voorsitterspos vir die Voëlvlei- boerevereniging beklee.
Hy laat sy vrou, Pamela Fivaz agter, asook sy drie dogters Christille (en Arno Blom met hulle dogters Münke en Ané Blom), Desima (en Louis Coetzee met hulle dogter Danika) en Nikkie (en Dirkie Kotzé), sowel as sy seun Stoffel Fivaz (en Rouxné). Verder word hy ook oorleef deur sy ma, Daleen Fivaz (90), sy susters Cecily en Mariëtte, en sy broers Louis, Flip, Marius en Nico.
Hy het altyd uit sy pad gegaan om sy medemens te help en dit is een van die vele redes waarom hy geliefd was deur die hele gemeenskap.
'n Begeesterde Stoffel in sy speeldae.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'