MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit neem vandag met groot hartseer afskeid van een van hul eie, brandbestryder, oom James Claassen.
Met meer as 30-jaar getroue diens aan sy gemeenskap, het James Claassen 'n onuitwisbare indruk op sy kollegas en die gemeenskap gelaat.
Hy was vir almal 'n voorbeeld van toewyding en deursettingsvermoë en het menige jonger brandbestryder touwys gemaak. Sy dapperheid en daadkrag is in menige voorval bewys en hy het selfs tydens Fase 5 van die nasionale Covid-19 inperking steeds gewerk.
Met 38-jaar in diens van die munisipaliteit was hy maar twee jaar van aftrede.
Nuus van oom James se heengaan is met skok begroet. Die waarnemende Burgemeester, Raadsheer Dirk Kotzé het sy meegevoel nie net met Oom James se bloedfamilie en die gemeenskap van D'Almeida nie, maar ook met sy brandweerfamilie betuig. "Ons eer die nagedagtenis van 'n merkwaardige man."
Die portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, Raadslid Niklaas Booisen het gesê hy neem met hartseer kennis van Oom James se dood. "Ek het hom feitlik my lewe lank geken en het voor hom groot geword. Mag hy in vrede rus."
Die munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee het bygevoeg dat Mosselbaai-munisipaliteit en die gemeenskap 'n groot verlies gely het. Hy het ook sy medelye met die familie en vriende gedeel.
Die Hoof van Mosselbaai se Brand, Redding en Rampbestuursdienste, Chief Joseph Johnston sê brandweerkollegas is verslae en geskok en sal Oom James en sy kwinkslae gewis mis.
"Hy het diep spore getrap en die jonger personeel verloor beslis 'n mentor. Oom James was 'n vriend vir almal by die brandweer, hy is die langsdienende brandbestryder wat sedert 1982 in diens van sy gemeenskap was. Geen taak was ooit te veel vir hom nie en hy was altyd bereid om die jonger lede by te staan en te leer oor die roeping as 'n brandbestryder. Hy was 'n sterk steunpilaar op sy skof en het nooit gekla oor wat hy moes doen nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'