MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-polisiestasie het met groot hartseer afskeid geneem van 'n geliefde lid wat deur die speurhoof, Jackie Grundlingh as haar blue eyed boy beskryf word.
Sersant Cecil Allen John Delport (39) is aan natuurlike oorsake op 21 September oorlede.
Delport, oorspronklik van Oudtshoorn was sewe jaar lank aan die Mosselbaai-polisiestasie verbonde en was vir vyf agtereenvolgende jare aangewys as speurder van die jaar.
Hierdie besonderse prestasie het hy, soos kapt Grundlingh in haar huldeblyk aan hom verduidelik het, behaal vanweë sy passie vir sy werk. "Hy het altyd gesê om 'n polisieman te wees is 'n roeping wat vanuit die hart kom." Hierdie toegewyde werk het hy boonop met deernis gedoen, omdat hy geglo het om ander te behandel soos hy behandel wou word.
"Sersant Cecil was so toegewyd in sy werk, dat hy nooit gehuiwer het om ekstra ure te werk om sukses in sy ondersoeke te behaal nie. Gereeld het hy by die kantoor ingeloer op sy rusdae en selfs tydens sy verlof, net om te kyk wat word van sy sake en watter vonnisse opgelê word."
'n Geliefde onder sy kollegas, het hy graag iets vir iemand anders gedoen en hy was bekend as 'n baasbraaier en -kok wat graag met nuwe resepte gespog het.
"Jy was 'n inspirasie vir my en almal om jou, maar ek sal altyd die herinneringe in my hart koester," het kapt Grundlingh haar huldeblyk tydens Delport se begrafnis gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'