Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - 'n Spesiale funksie om Mosselbaai Toerisme se 20ste verjaardag te vier, is op Dinsdag, 27 September by die Bahia Bleu & Chef's Emporium restaurant in die Diaz hotel gehou.
Die Ikoniese Mosselbaai bemarkingsveldtog wat einde Augustus bekendgestel is, is 'n gepaste manier om die groter Mosselbaai te bemark met nuwe logo's wat die agt omliggende dorpe insluit.
Volgens Lieschke Steven-Jennings, die waarnemende bedryfshoof van Mosselbaai Toerisme behels die Ikoniese bemarkingsveldtog onder andere 'n reuse selfie-raam by die Punt, 'n motor met die Ikoniese handelsmerk, 'n besoekersgids, sosiale media- en webwerf-plasings en groot advertensieborde in Gauteng.
Steven-Jennings sê; "Samewerking om die Ikoniese Mosselbaai handelsmerk te vestig, is belangrik om toerisme suksesvol te bemark en om sodoende ook die plaaslike ekonomie te laat groei".
Mosselbaai se munisipale bestuurder, Colin Puren vertel dat Mosselbaai Toerisme sedert 2002 van krag tot krag gegaan het. "Ons as munisipaliteit onderneem om die pad saam met hulle te stap en ons bedank ook die gemeenskap van Mosselbaai wat oor die jare bygedra het tot hulle sukses."
JJ Moorcroft, eienaar van die Gannet restaurant het ook die geleentheid by-gewoon. Hy was 33-jaar gelede een van die stigterslede van die Mosselbaai Toeristevereniging en is as voorsitter verkies. In 2002 is 'n Artikel 21-maatskappy gestig wat nou bekend staan as Mosselbaai Toerisme.
Moorcroft sê hy is baie trots op dit wat Mosselbaai Toerisme die afgelope 20 jaar bereik het. Die onderburgemeester van die Mosselbaai-munisipaliteit, raadsheer Cliffie Bayman het met die hulp van raadslid, Mark Furness die koek gesny wat deur
De Vlaming Bakkery gebak is.
VIDEO - Colin Puren, Mosselbaai se munisipale bestuurder, vertel van sy trots en ondersteuning vir Mosselbaai Toerisme by die 20ste verjaardagvieringe (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
VIDEO - Café Gannet restaurant eienaar, JJ Moorcroft, een van die stigterslede 33 jaar gelede van die eerste Toerisme-vereniging in Mosselbaai (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
Die kenmerkende ICONIC Mossel Bay vlae wat by enige geleentheid gebruik kan word om toerisme te bevorder.
Die heerlike verjaardagkoek om Mosselbaai Toerisme se 20ste bestaansjaar te vier.
Die Mosselbaai Toerisme kantoor se spanlede by die reuse selfie fotoraam by die Punt in Mosselbaai. Monique, Cheslin, Lieschke die waarnemende bedryfshoof, Roland, Jessica en Dulin.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'