MOSSELBAAI NUUS - Watter tipe projekte en veldtogte is daar in die pyplyn in terme van handel en toerisme vir die Tuinroete?
Dit vorm deel van die inligting wat Tim Harris, hoofuitvoerende beampte van Wesgro en gasspreker vanaand, Vrydagaand 21 September by die Mosselbaai Besigheidskamer se jaarlikse gala-aand sal deel. Die funksie vind by Jakkalsvlei Wynlandgoed plaas.
Wesgro is die toerisme, handel en beleggingsbevorderingsagentskap vir Kaapstad en die Wes-Kaap. Benewens toerisme en handel hanteer hulle ook navorsing, film en media en die internasionale konferensiesentrum in Kaapstad.
Harris sal beslis die voordele wat daar vir Mosselbaai en die Tuinroete is om betrokke te raak by hul projekte, uitlig.
Harris was voorheen verbonde aan die parlement as die DA se skaduminister van finansies. Hy is in besit van 'n BA-graad in Engelse literatuur asook 'n meestersgraad in Ekonomie. Hy is tans lid van die raad van die Kaapstad se Filmateljees en BPESA.
Die besigheidskamer se Sake-ondernemings van die jaar in die klein, medium en groot-afdelings sal ook vanaand aangekondig word.
Vir navrae bel 044 698 1865 of stuur e-pos aan admin@mosselbaychamber.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'