Die Mosselbaai Besigheidskamer het by hierdie geleentheid ‘n Spesiale Toekenning vir Uitnemendheid ter erkenning van volgehoue bydrae tot die ontwikkeling en bemarking van Mosselbaai aan die Mossel Bay Advertiser gemaak.
“Omdat die Mossel Bay Advertiser honderd persent daarin slaag om objektiewe, neutrale en onpartydige joernalistiek te handhaaf, het die bestuur van die Mosselbaai Besigheidskamer (MBBC) besluit om ‘n spesiale toekenning aan die koerant te maak”, het mnr Van Rensburg gesê toe hy die toekenning aan Shirley Coetzee, die Hoof van Bemarking en die joernalis, Nickey le Roux, oorhandig het.
Die Mossel Bay Advertiser is ‘n gemeenskapskoerant met diepgewortelde gemeenskapstrots en ‘n gemeenskapsingesteldheid. Benewens die talle onlangse toekennings vir gemeenskapsbetrokkenheid deur instansies soos die Rotary, Solidariteit Helpende Hand, MOTHS, Suidkaap Jagtersvereniging, SWD Sport en Aandliga Krieket, word die Advertiser ook deur die industrie erken vir die kwaliteit produk wat gelewer word. Onlangs het die koerant weer eens die gesogte PMR Diamant toekenning ontvang.
In 2012 het die Mossel Bay Advertiser in ‘n nasionale kompetisie die Caxton Toekenning vir Uitnemendheid as tweede beste gemeenskapskoerant in die land in die kategorie tot 8 000 – 10 000 verkope, ontvang. Hierbenewens het die Advertiser reeds ‘n wenner as beste gemeenskapskoerant Joernalis van die Jaar opgelewer, en is een van die huidige joernaliste ‘n vorige naaswenner van die gesogte Joernalis van die Jaar toekenning.
Die koerant spog met ‘n personeel van 12 toegewyde vroue, die redakteur, Suzette Herrer, vier joernaliste, drie bemarkers en ook administratiewe personeel.
Die Advertiser se personeel het ‘n eie gemeenskapsuitreikaksie, die Oliver Twist projek, tot stand gebring wat letterlik honderde begunstigdes se lewens aangeraak en verbeter het. Die Advertiser funksioneer as agent vir verandering deur welwillendheid en omgee te fasiliteer.
As Goue Lid van die Mosselbaai Besigheidskamer ondersteun die Mossel Bay Advertiser die Koop Plaaslik veldtog met oorgawe.
Die Mossel Bay Advertiser, een van die oudste besighede op Mosselbaai, se eerste uitgawe was op 4 Januarie 1871 en vandag spog dit met ‘n oplaag van bykans 10 000.
Ten spyte van ekonomiese druk slaag die Mossel Bay Advertiser met vernuwende en innoverende nuwe produkte wat onlangs tot die mark toegevoeg is juis om op grond van intensiewe navorsing in die werklike behoefte van die mark en leserspubliek te voorsien;
· Loods op 23 Mei 2012 die gratis Mossel Bay Home Ads News. Met ‘n oplaag van amper 19 000 word dit weekliks gratis aan huise en geselekteerde besighede in groter Mosselbaai area versprei.
· Bedryf ‘n baie suksesvolle sosiale media veldtog deur ‘n gewilde webblad, Facebook blad en twitter rekening waardeur meer as 2 000 lesers plaaslik en internasionaal daagliks van dorpsgebeure en ontwikkelinge ingelig gehou word soos en wanneer dit gebeur.
· ‘n Nuwe inisiatief, aanlyn advertensies op die Mossel Bay Advertiser se webblad, bied boonop besighede die geleentheid om ‘n nasionale en internasionale gehoor met hul produkte te bereik.
“‘n Onlangse SMS in die koerant se SMS kolom merk tereg op: ‘As iets nie in die Advertiser verskyn nie, is dit waarskynlik nie waar nie’, het mnr Van Rensburg afgesluit.

Die Mosselbaai Besigheidskamer het 'n Spesiale Toekenning op Woensdagaand, 27 November aan die Mossel Bay Advertiser toegeken. Hier ontvang joernalis Nickey le Roux en die Hoof van Bemarking, mev Shirley Coetzee van die Advertiser die toekenning van mnr Johan van Rensburg, Voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer terwyl mnr Christo van de Rheede, HUB van die Afrikaanse Handelsinstituut, toekyk. Foto: Mandie Black
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'