MOSSELBAAI NUUS - Heerlike gholfweer het verlede week die speeltoestande vir die klomp entoesiastiese gholfspelers aangenaam gemaak.
Werner Botha van Nashua was Woensdag, 8 Junie soos altyd weer getrou op sy pos om hulle gewilde gholfdag aan te bied.
Die individuele stablefordkompetisie het aan 148 spelers geleentheid gebied om mekaar die stryd aan te sê. Die stryd was fel en die eerste drie spelers het op 39 punte hulle ronde voltooi.
Die uittel-proses het sy loop geneem en Thys Pelser het die knoop deurgehaak. Harald Harding was die naaswenner en Nic Marais het die derde plek syne gemaak.
Op 37 punte het Bennie Badenhorst ook die rooi tapyt betree om die vierde prys in ontvangs te neem. Nashua het ook gesorg dat LD Griesel op 36 punte nog in die pryse kon deel. Dankie Werner en Nashua vir julle lojale ondersteuning.
Saterdag
Saterdag, 11 Junie moes die manne hard werk, want die vierbal alliansie het vereis dat die beste drie tellings op elke putjie in berekening gebring is.
Wiekus Pretorius, met vroutjie Annette om hom by te staan, asook Danie Nel en Kim de Klerk, het hulle uitmuntend van hulle taak gekwyt en op 129 punte was hulle die oorwinnaars van die dag.
Martiens Mulder het sy span bestaande uit Brian Power, Leon van Schalkwyk en Joe Luggen pragtig gelei en hulle 127 punte het hulle die gewilde naaswenners gemaak.
Oosie Oosthuizen, bekend as ‘n oggendmens, het die pragtige oggendtoestande behoorlik geniet en lei sy drie spanmaats, Barry Vermeulen, Anton Steenkamp en Jannie Lourens, tot in die derde plek op 123 punte.
Oorlede
Ons klomp gholfvriende het ook die hartseer nuus ontvang dat een van ons getroue en lojale lede, Johann van Langelaar oorlede is. Sy entoesiasme vir die spel sal ons altyd bybly. Sterkte en vertroosting toegebid aan Danie en naasbestaandes.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'