Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Dit is 'n hartseersaak om na 38 jaar se toewyding aan 'n werkgewer en werkplek, weer na 30 jaar besoek by jou werkplek te gaan aflê, net om te sien hoe vervalle en agteruit dit gegaan het.
'n Tyd gelede het Magda Kask en Stephen Fouché besluit om hul pa Petrus Hardus (Pierre) Fouché (90) en ma Elizabeth na hul pa se werkplek te neem, nadat hy jare gelede afgetree het. Tans is hulle inwoners van Ons Huis-tehuis op Mosselbaai. Fouché het op 30 April 1991 afgetree.
Fouché het op Mosselbaai groot geword en treine was gereeld hier in die baai te siene. Sy liefde vir treine is van jongs af gekweek.
Op 8 Desember 1952 begin hy as spoorwegwerker by die Mosselbaai-spoorwegstasie waar La Peron deesdae is. Dit was sy taak om alle herstelwerk binne die treine en die terrein van die stasie te onderhou. Met 'n latere aanstelling as vakwerker was sy taak op die lokomotiewe in stand te hou. Dit het onder andere behels die ghries van die wiele en enjin en instandhouding en blinkmaak van dié eertydse staalreuse.
VIDEO: Jare se spore op treinstasies getrap
"Ons het vyfsterstatus gekry met die mooi tuin en lokos se goeie toestand en het baie keer van die blomme huis toe geneem," vertel Fouché.
Met die verloop van tyd is die Mosselbaai-stasie toegemaak en is Fouché na die Voorbaai-stasie. Deur sy toedoen was dit as een van die mooiste en beste stasies van daardie tyd beskou.
Elizabeth, wat tydens Pierre se diensjare nooit by sy werkplek was nie, het na die besoek aan die Voorbaai-stasie aan die Mossel Bay Advertiser gesê, dat dit vervalle lyk en tragies is dat die treine so verwaarloos word.
"Ek het as jong kind gereeld van ons spoorweghuis net bokant waar La Peron nou is, na die stasie geloop om my pa na werk daar in te wag," vertel Magda wat tydens die Advertiser se besoek by haar ma en pa gekuier het.
"Wat as jong kinders vir my en my broer Stephen lekker was, was dat ons vakansies vrypas gekry het en ons met die trein Port Elizabeth en Kaap toe kon ry".
"Ek onthou as kind hoe my pa vroeg in die oggend al koffie gemaak en na die nuus geluister het, voor hy op sy motorfiets geklim en werk toe gery het. Dit het hy die hele 38 jaar van sy loopbaan gedoen, in wind, koue en reën," vertel Stephen.
"Ons as kinders is trots op ons pa vir sy jarelange diens wat hy vir Mosselbaai se treinstasies gedoen het."
Van jongs af is Fouché ook baie kunstig en het in sy vrye tyd geskilder en klein bootjies gebou. Daar pryk nog van sy eertydse kunswerkies in hul kamer by die tehuis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'