Gallery
MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Tergniet het vandeesweek sy kommer te kenne gegee aangaande strandtoegang in dié woongebied wat volgens hom, gevaarlik vir die publiek blyk te wees.
Die man, wat vroeër die week die kantore van die Mossel Bay Advertiser gekontak het, het gesê dat die sand waarop die sementrappe rus wat toegang verleen tot die strand by Derdesraat en Kusweg, tydens rowwe seetoestande 'n geruime tyd gelede al weggespoel het.
Die man het ook gesê dat die trappe wel by tye afgesper is, maar dat lede van die publiek die versperrings verwyder om toegang tot die strand te verkry.
Hy het verskeie foto's verskaf, waaronder ook 'n foto van 'n geen toegang-teken wat by die trappe opgerig is.
By navraag het die Mosselbaai-munisipaliteit gesê dat daar 'n versekeringseis vir die trap se beskadiging ingedien is en dat die eis sopas in die afgelope week afgehandel is.
Na die Mossel Bay Advertiser se navraag vandeesweek, het die Mosselbaai-munisipaliteit weer hierdie versperring by die trappe aangebring.
"Die proses kan nou voortgaan om 'n kontrakteur aan te stel om met die herstelproses te begin.
"Die skade is egter meer as R200 000 wat beteken dat ons 'n tenderproses moet volg om 'n kontrakteur aan te stel om dit reg te maak. Die spesifikasies vir die herstel word in samewerking met 'n konsultant opgestel en sal daar binne die volgende week met die amptelike voorsieningskanaalbestuurproses (die tender) begin kan word.
"'n Tenderproses neem egter nie minder as drie maande nie en met konstruksiemaatskappye wat oor Desember/Januarie sluit sal dit nog bietjie langer neem.
Daar sal dus nie voor volgende jaar met die herstel begin kan word nie. Intussen sal ons seker maak dit is veilig."
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'