MOSSELBAAI NUUS - As mens graag onthaal en boonop 'n baaskok is, kan inperking beslis 'n groot uitdaging wees. Maar as een van jou gawes laterale denke is, kan omstandighede ten beste benut word.
Judy Meyer van Hartenbosheuwels, 'n bekende in plaaslike koskringe en voorheen betrokke by die Suid-Kaap Fynproewersgilde, het verlede week op Vrydag, 10 April verjaar. Sy is tans betrokke by 'n groep kosfundi's wat hulleself Mosskos noem.
Aangesien sy nie haar vriendinne oudergewoonte kon trakteer met 'n stylvolle teeparty en keurige gebak nie, het sy besluit om haar tot sosiale media te wend.
"Ek het besluit om 'n koek challenge te hou met my familie, my Mosskosmaats en my ver-vriendinne se deelname. Almal het gebak en ons het alte lekker saam koek geëet."
Judy se skoondogter, Shade is saam met haar en haar man, Gordon tydens die grendeltydperk. "Ek was gelukkig, want sy het vir my 'n koek gebak wat ons saam kon geniet." 'n Goeie vriendin het ook 'n koek in haar oprit kom aflaai. Selfs haar dogter, Geodell wat elders die inperkingstyd beleef, het pannekoeke vir die verjaarsdagpartytjie gebak.
"Die hele ervaring was groot pret. Dis beslis 'n verjaarsdag wat ek nooit sal vergeet nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'