MOSSELBAAI NUUS - In Mosselbaai het uitstekende samewerking tussen die onderskeie verkeersowerhede daartoe gelei dat 'n onwettige minibus-taxi wat passasiers vervoer, van die pad gehaal is.
"Op 2 Februarie het beamptes van die provinsiale verkeersdiens die registrasienommer van 'n minibus-taxi wat passasiers vervoer ondanks die feit dat die voertuig geskrap is, deurgegee na Mosselbaai Verkeersdienste nadat die taxi deur die provinsiale verkeersbeamptes opgelet is.
"Op 6 Februarie om 08:30 het verkeersbeampte Gerber van Mosselbaai-verkeersdienste gerapporteer dat hy die minibus-taxi voorgekeer het.
"By nadere ondersoek, benewens die feit dat die minibus-taxi passasiers vervoer het terwyl die gebruik daarvan op die Natis (Nasionale Verkeerinligting Stelsel) opgeskort is, is ook gevind dat die betrokke voertuig 'n fiktiewe lisensieskyf vertoon het met 'n vervaldatum van 30 Junie 2018.
Dié lisensieskyf, op afrolpapier is teen die windskerm vertoon.
Tydens die ondersoek is die Natis nagegaan en gevind dat hierdie minibus reeds op 4 Julie 2017 opgeskort is," aldus die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
Dié fiktiewe lisensieskyf op afrolpapier is teen die windskerm van die minibus-taxi vertoon.
Lasbriewe
Die bestuurder se inligting is terselfdertyd nagegaan, asook die moontlikheid van enige uitstaande lasbriewe.
Daar is gevind dat die betrokke bestuurder drie verkeerslasbriewe uitstaande het.
"Die wetlike proses is gevolg en die verantwoordelike bestuurder van die minibus is gearresteer vir die uitstaande lasbriewe, 'n saakdossier is geopen by Da Gamaskop-polisiestasie vir vervalsing en uitgifte.
"Die betrokke voertuig is kragtens die Wet op Padvervoer vir die onderneem van onwettige padvervoer, geskut by die Nasionale Padvervoer Reguleerder fasiliteit te George."
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'