MOSSELBAAI NUUS - Tydens 'n gemeenskapsvergadering beroep deur die Mosselbaai-munisipaliteit aangaande die toekoms van die Tarka Straatfees, is besluit dat 'n komitee voortaan die hand van James Malgas, wie se breinkind die fees is, sal sterk.
Colin Puren, uitvoerende bestuurder - strategiese dienste by die Mosselbaai-munisipaliteit, het die byeenkoms op Dinsdagaand, 30 Oktober gelei. Raadslede Erika Meyer, Venolea Fortuin en Marulyn Kannemeyer het ook die byeenkoms in die El Shaddai Baptiste Kerk, Tarka bygewoon.
Puren het genoem dat die voorgestelde begroting vir die fees meer effektief aangewend kan word om ook plaaslike talent te bevoordeel. Hy het dit duidelik gestel dat die munisipaliteit, as 'n borg en ook logistieke ondersteuner van die fees, 'n hoogs gereguleerde organisasie is en te alle tye rekenskap van hulle betrok-kenheid moet kan gee.
Vandaar die voorstel dat 'n komitee saamgestel moet word wat vir die aanbied van die fees verantwoordelik sal wees, in plaas van 'n individu, soos dit in die verlede was. Puren het Malgas geloof vir sy inisiatief en goed uiteengesette aanbiedings en begrotings wat die fees betref.
Malgas het tydens sy spreekbeurt die ontstaan van die fees belig, asook genoem dat die fees ontwikkel moet word tot 'n langtermynprojek waarby lede van die Tarka-gemeenskap finansieel kan baat.
Verskeie lede van die gemeenskap het Malgas se betrokkenheid by die fees vurig ondersteun en gesê dat hulle baie sterk voel oor hoe en wat by die fees aangebied moet word. Raadslid Venolea Fortuin het tydens haar bydrae gesê dat 'n amptenaar van die munisipaliteit op die feeskomitee sal moet dien, vanweë die borgskapooreenkoms.
Sy het ook uitgelig, dat die Tarka Straatfees tans die enigste fees in Mosselbaai is wat in 'n spesifieke woonbuurt gehou word, en deur die Mosselbaai-munisi-paliteit ondersteun word. Die voorgestelde datums vir die fees is vanaf 20-23 Desember.
Colin Puren, uitvoerende bestuurder - strategiese dienste by die Mosselbaai-munisipaliteit verduidelik die noodsaaklikheid van die stigting van 'n gemeenskapskomitee. Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'