MOSSELBAAI NUUS - Ek het nou al so baie te sê gehad oor Tarka se mense, dat ek nie die fout moet maak om die sterk vroue te vergeet nie. Die wat raakvat in die kerk- en skolegemeenskap.
En natuurlik, bewaarders van die vrede, veral wanneer die dorp se twee voorste rugbyspanne teen mekaar rugby gespeel het. Ek wonder soms of hierdie kragmetings 'n seëning of 'n vloek was.
Maar ewenwel ons moeders was daar in die geval van enige moeilikheid.
Die Staat het ons kinders elke dag van vars melk voorsien. Antie Lizzie Hendricks, wat bo in Tarka was, ant Mag onder in Tarka en die doktersuster by die Pries oftewel Rooms Katolieke Kerk, het die melk beker vir beker aan ons kinders uitgedeel. Ons moes voor die tantes drink.
Die vroue van Tarka het meestal huishoudelike werk in ander woonbuurte verrig. Ek lig die madams hier uit omdat ons as kinders met hulle almal te doene gekry het. Ons is altyd goed deur hulle behandel. Hulle mans, was meestal by die werk.
'n Weelde was dit dat hierdie blanke vroue nie net ons moeders van werk voorsien het nie, maar hulle het ons ook van 'n lekker bord kos voorsien wat elke dag huis toe gekom het.
Ek kan onthou dat ek elke dag dr Norval se koerant onder oë kon kry, nog voordat hy dit gelees het. Hy het nooit daaroor gekla nie. Trouens ek vermoed dit was sy manier om my liefde vir lees aan te moedig. Wil ek my verbeel, of kry ek so 'n vogtigheid in die oog oor hierdie besonderse mens.
As verdere aanvulling vir die inkomste, het die moeders ook wasgoed van die blankes in Tarka gewas en gestryk. As kinders moes ons hierdie wasgoed gaan afhaal en weer wegbring. 'n Werkie wat ons met graagte gedoen het, met grondboontjiebotter- en Marmite-broodjies as beloning - smeergoed wat in onse huise maar skaars was.
Tarka-vroue is sout van die aarde
Ant Bet Harding het die kommunale toilet naby haar huis soos 'n brandwag opgepas. As jy nie van daardie omgewing was nie, sou jy nie jou voete binne daardie toilet gesit het nie.
Ek self het daardie kommunaal soos die pes gehaat. Met permissie gesê, het ek as kind verkies om liewers veld toe te gaan.
Ant Mag Muller wat die All Saints Brigade se meisies tydens optogte gelei het en hulle sodoende terselfdertyd die fynere dingetjies van hoe 'n dame haar gedra touwys gemaak het. Antie Van der Vindt was altyd vroeg vir 'n geleentheid.
Sy sou al teen sesuur die oggend poskantoor toe stap om haar pensioen te kry, terwyl dit eers om negeuur uitbetaal sou word.
Die kere dat sy met die vieruurtrein die middag Kaapstad toe sou ry moes oom Moenie Frans haar teen negeuur die oggend reeds op die stasie in die dorp aflaai. Desondanks, hulle maniertjies was hulle goeie vroue, sout-van-die-aarde-vroue. Een en elkeen van hulle.
ARTIKEL: SELWYN HERMANUS
(Selwyn Hermanus is 'n oud-onderwyser van Mosselbaai.)
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'