MOSSELBAAI NUUS - Tarka is bekend vir sy prag-uitsig oor Mosselbaai en eersdaags sal een van dié woonbuurt se mees ikoniese uitkykpunte 'n amfiteater wees.
Die Tarka-amfiteater word tans teen 'n koste van R4.4 miljoen opgerig.
Die idee om 'n amfiteater te skep, het ontstaan toe die Tarka Straatfees aangebied is en dit is later verder as 'n behoefte tydens die GOP-proses bespreek.
Dit word in die vooruitsig gestel dat die amfiteater, wat 'n maksimum 2000 mense sal kan huisves, teen Oktober 2023 voltooi sal wees. Fase een van die konstruksies sluit die bou van 'n verhoog, sitplekke, voetpaadjies en omheinings in. Tydens fase twee sal ablusiegeriewe en besigheidspasie vir klein ondernemings geskep word.
Konstruksie het in aanvang geneem in oorleg met die gemeenskap.
Aangesien die perseel 'n natuurlike amfiteater vorm, is dit ideaal vir sodanige aanwending. Gemeenskapsvergaderings het die konstruksieproses voorafgegaan waartydens daar deurgaans insae gelewer is, ook wat die goedkeuring van die planne betref.
Die Erfeniskomitee is in die proses geken. Dit word in die vooruitsig gestel dat gedenkstene op die perseel opgerig sal word, waarop die geskiedenis van die area vervat sal word. Verdere gesprekke met die gemeenskap sal nog volg, spesifiek rakende die erfenisbesonderhede waaraan erkenning gegee moet word.
Die amfiteater is ideaal vir buiteluggeleenthede soos feeste, konserte en dies meer. Dit sal deur die Mosselbaai-munisipaliteit uitverhuur en onderhou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’