HARTENBOS NUUS - Tannie Nellie Polley, gebore op 26 Januarie 1920, is tans'n inwoner by die Hartenbos versorgingsoord. Volgens haar is stilsit vir die jonger geslag.
Vandag, 3 Augustus, is tannie Nellie 102 jaar en 6 maande oud, en vir 16 jaar daarvan brei sy blokkies vir komberse.
Sy het blokkies vir ongeveer 100 komberse, indien nie meer nie, van verskillende groottes gebrei. Dit is alles vir liefdadigheid geskenk, behalwe twee of drie wat sy vir fondsinsamelings vir spesifieke projekte geskenk het.
"Dit is my bydrae om die nood van minderbevoorregtes te verlig. Ek kan nie meer fisies help nie, maar dit keer my nie om in my woonstel te sit en besig te wees nie,"sê sy. "Ek kan nie arms gevou sit nie."
Sy spog met vier kinders, 10 kleinkinders, 12 agterkleinkinders en 1 en ‘n driekwart agter-agterkleinkinders. Die tweede enetjie behoort die tweede helfte van September sy opwagting te maak.
"Haar pronkstuk is 'n kombers wat sy gemaak het vir een van haar kleinseuns wat eendag genoem het dat hy darem graag ‘n kombers wil hê om hom altyd aan sy ouma herinner," vertel Thelma Smit, dogter van tannie Nellie. "En toe het ouma net daar besluit, die volgende kombers moet vir Hylton gemaak word."
Daar is 182 blokkies, 14 560 rye en 298 480 steke in hierdie kombers. Elke stekie is met liefde gebrei. Die kombers weeg 3,9kg. Volgens Smit het René Breytenbach dit aanmekaar gehekel en is sy bedank vir haar aandeel in die gebreide lappieskombers.
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'