MOSSELBAAI NUUS - Johanna Maria Badenhorst (née Jansen van Rensburg) is op 24 November 1917 op Hopetown gebore en het daar skoolgegaan. Tannie Jane soos almal haar ken, het Maandag, 11 April haar lewe afgesluit by die Hartenbos-versorgingsoord in die ouderdom van 104 jaar.
Na matriek het sy verpleegopleiding by die staatshospitaal op Kimberley ontvang. Tydens haar loopbaan was sy matrone van die Elizabeth Conradie-tehuis vir gestremde kinders.
Sy was die oudste inwoner van Hartenbos-versorgingsoord en een van die oudste inwoners van Mosselbaai. 'n Maand nadat sy in 2020 103 jaar oud geword het, is sy positief getoets vir Covid-19.
Sy het wonderbaarlik en danksy goeie versorging herstel. Sy het op 2 Junie 2021 haar inenting ontvang.
Sy was 'n toegewyde Christen wat elke aand gegroet het met die woorde, "die Here seën en bewaar jou," vertel stafverpleegster, Gail Schultz aan die Mossel Bay Advertiser. Die personeel het na haar dood om haar bed gestaan en die Here is my Herder gesing.
"Elke inwoner hier by ons is soos familie vir ons en ons het baie hartseer afskeid geneem van tannie Jane," sê Schultz.
"As inwoner sedert 1 Oktober 2018 was sy vir ons almal in Hartenbos-versorgingsoord 'n voorbeeld van liefde en omgee vir mense met 'n passie vir die lewe en die Here," sê suster Ebenja Maritz.
Wyle Jane Badenhorst op 24 November 2021 toe sy 104 jaar oud geword het.
Die personeel van die oord het die volgende boodskap gestuur: "Vir ons by die oord was sy 'n inspirasie en beeld van God se genade en liefde. Sy het dit uitgeleef en uitgebeeld as mens. Sagtheid en geduld was sinoniem by haar."
Tannie Jane het ook tot met haar dood 'n tassie by haar gehad met Bybels wat sy gereeld uitgedeel het. "Ek is geseënd en die Here kyk goed na my," het tannie Jane destyds aan Advertiser gesê.
Sy laat haar dogter Hanna Buys, twee kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'