MOSSELBAAI NUUS - 'n Kultuurorganisasie wat reeds in 1929 sy beslag gekry het, het vandeesweek in Mosselbaai weer 'n plaaslike hupstoot gekry met die stigting van die FAK Kultuurnetwerk. Die FAK of Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, 'n gevestigde organisasie, posisioneer hulleself as toekomsgerig om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder.
Tydens die stigtingsvergadering van 'n kultuurnetwerk in Mosselbaai op Dinsdag, 10 September, het 17 uitgenooide liefhebbers van Afrikaans, kultuur en geskiedenis byeengekom om idees uit te ruil.
Daar is ook gesels oor projekte waarby hulle betrokke kan raak ten einde die netwerk se mandaat te vervul om 'n ondersteuningsplatform te skep vir skole en plaaslike kultuurorganisasies.
Elizma Smith, die kultuurorganiseerder vir die Kaapprovinsie het tydens Dinsdagaand se vergadering genoem dat Mosselbaai haar derde netwerkgeleentheid sedert haar onlangse aanstelling is.
Smith het aan die hand van 'n brief deur dr Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, verduidelik wat die organisasie in die breë ten doel het. Wat die kultuurnetwerk betref is die eerste prioriteit om die kommunikasie tussen skole, kultuurorganisasies en kultuurleiers te bevorder. Tweedens, sal die netwerk plaaslike kultuuraktiwiteit beter bekend stel en die sigbaarheid daarvan in die gemeenskap te verhoog.
'n Verdere doelwit is om hande te vat en saam te werk om erkenning te gee aan plaaslike kultuurleiers vir hulle dienswerk; 'n monument of erfenisterrein in beskerming te neem of om 'n gesamentlike projek te loods soos om 'n nuwe monument te bou.
Tydens die bespreking Dinsdagaand, het Smith haar verbasing en opgewondenheid uitgespreek oor die veelvoud idees wat gegenereer is deur die groep. 'n Plaaslike sameroeper vir die kultuurnetwerk is verkies wat deur die FAK se hoofkantoor en die voltydese kultuurorganiseerder ondersteun sal word. Denise Lloyd is eenparig tydens die vergadering aangewys as plaaslike sameroeper.
Enige verdere navrae kan gerig word aan Elizma Smith (elizma@fak.org.za of 082 629 6415) of die FAK-kantoor (012 301 1777).
Sewentien liefhebbers van Afrikaans, kultuur en geskiedenis het Dinsdagaand byeengekom vir die stigtersvergadering van die FAK Kultuurnetwerk. Voor (middel) is die FAK se kultuurorganiseerder vir die Kaapprovinsie, Elizma Smith. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'