Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die verkoop van alkohol en sigarette op die swartmark floreer in Mosselbaai, vanweë die inperkingsregulasies.
Die verbod op die wettige verkoop van alkohol en sigarette, een van die strengstes ter wêreld, is ingestel om middernag op 26 Maart toe die landswye inperking in werking gestel is om die verspreiding van Covid-19 te beheer.
Maar dit blyk asof die volgehoue verbod inwoners wat nie genoeg voorraad vóór die inperking bekom het nie, daartoe aangespoor het om alternatiewe te soek. Tuisgebroude pynappelbier is die jongste gier onder Suid-Afrikaners en swartmarkhandelaars kraai koning met alkohol- en sigaretverkope wat toenemend die hoogte in skiet.
Intussen ly rokers en drinkers onder die belaglik hoë pryse waarvoor sigarette- en drank plaaslik op die swartmark verkoop word. Boonop het die volgehoue verbod al hoe meer kriminele aktwiteite tot gevolg.
Kyk 'n video hieronder:
Swartmarkpryse
Die Mossel Bay Advertiser het die beskikbaarheid van drank- en sigarette in die omgewing op die proef gestel. Dit was glad nie moeilik om wyn, whiskey, brandewyn, jenewer of sigarette in die hande te kry nie. 'n Plaaslike spazawinkel het sigarette, wat Chesterfield en Marboro insluit, teen R60 per pakkie verkoop. Vyf liter rooi- of witwyn kon by dieselfde winkel gekoop word teen R550 per boks.
Op Wolwedans in Groot-Brakriver was brandewyn te koop teen R400 per bottel en sigarette is sommer langs die pad in die verbyloop gesmous vir R10 per sigaret.
Ontevrede inwoners van Uitbreiding 13 het aan die Advertiser gesê dat een bier, waarvoor hulle gewoonlik R18.50 sou betaal, nou teen R60 per bier op die swartmark te koop is.
Sedert die nasionale inperking begin het, het lesers gereeld op die Advertiser se facebookblad boodskappe geplaas aangaande onwettige drankverkope wat in die JCC-woongebied voortgeduur het.
'n Inwoner wat anoniem wil bly, sê die gemeenskap is onsteld oor die belaglik hoë pryse wat hulle moet betaal by winkels waar hulle gereelde klante is.
"Ons word nou nie meer gehelp nie omdat ons nie die hoë pryse kan betaal vir drank- en sigarette nie, maar ander mense wat dit wel betaal kry nou voorraad." Die inwoner sê sigarette waarvoor hulle vóór die inperking R25.30 per pakkie sou betaal kos deesdae sommer tussen R120 en R150 per pakkie, "maak nie saak watter soort sigaret dit is." Intussen het die polisie hulle hande vol om handelaars aan die pen te laat ry.
Die polisie op Groot-Brakrivier het die afgelope naweek op 'n spazawinkel by Klein-Brakrivier toegeslaan en beslag gelê op tabak en sigarette.
Bewerings dat 'n spazawinkel op Wolwedans geplunder is omdat inwoners woedend was oor die pryse van sigarette word nog deur die polisie ondersoek. Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kaptein Malcolm Pojie sê die polisie het onlangs beslag gelê op 'n groot hoeveelheid drank- en sigarette. Die afgelope week het polisie by padblokkades in die omgewing afgekom op sigarette ter waarde van R200 000 wat in 'n vragmotor vervoer is en agter pynappels weggesteek was. Die drywer was onderweg op die N2 vanaf Grahamstad in die rigting van George.
Verbod vaal sy doel
Navorsing wat deur professor Corné van Walbeek, projekdirekteur by die Universiteit van Kaapstad (UCT) se skool van ekonomie gedoen is, het bevind dat sigarette steeds gekoop word, ongeag die verbod.
Die swartmark ontduik belasting en laat die prys van sigarette- en drank astronomies styg.
Van Walbeek sê die verbod op sigarette vaal die aanvanklike doel en maak nie meer ekonomies sin nie.
Tans is daar steeds geen aanduiding oor wanneer die verbod gelig sal word nie, maar navorsing deur Van Walbeek en sy span dui daarop dat die meeste rokers en drinkers, steeds tydens die staat van inperking met hulle gewoontes voortgaan.
Die Groot-Brakrivier-polisie se woordvoerder, sersant Laurianne Botha by tabak- en sigarette wat gekonfiskeer is.
Hierdie pakkies sigarette is op die swartmark in Uitbreiding 13 te koop.
Inwoners in KwaNonqaba kon onlangs van hierdie pakkies sigarette koop.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'