MOSSELBAAI NUUS - Die Langeberg K9-eenheid het hulle teenwoordigheid laat geld toe hulle verskeie misdadigers aan die pen laat ry het.
Verlede Woensdag, 30 Mei om 16:20 het lede twee mans en 'n vrou in Bill Jeffrey-rylaan in hegtenis geneem nadat hulle 'n voetganger glo met 'n pistool gedreig en van 'n selfoon beroof het.
Nog 'n lid van die eenheid, het Sondagoggend, 3 Junie omstreeks 05:30 'n verdagte op Louis Fourie aangekeer wat in besit van vermoedelik gesteelde goedere was.
Die 31-jarige verdagte het 'n swartsak met verskeie duur elektroniese items onder meer 'n Dell-skootrekenaar, iPhone, Cell C-selfoon en dies meer by hom gehad. Daar is op die items beslag gelê en die verdagte is in hegtenis geneem.
Eers hierna het die Da Gamaskop-polisie kennis ontvang van 'n huisbraak in Swellendamlaan waar by 'n wendy-huis wat as 'n kantoor op 'n woonperseel gebruik word, ingebreek is.
Die gesteelde goedere was dus reeds in die polisie se besit nog voor die eienaar daarvan besef het dat daar by sy kantoor ingebreek is. Die goedere is intussen deur die regmatige eienaar uitgeken en terug in sy besit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'