TUINROETE NUUS - Boerehulp RSA, 'n groepie vrywilligers van die Suid-Kaap, het 'n ruk gelede aan die werk gespring om boere wat onder die droogte gebuk gaan, te help.
Hulle het begin by die Nous-Wes-boerevereniging in Boesmanland. Wilmer Muller, 'n Dwarswegstrand-inwoner naby Groot Brak wat as koördineerder van Boerehulp RSA optree, sê hy kom sporadies vir die afgelope 56 jaar al in Boesmanland, maar het nog nooit 'n droogte van hierdie omvang daar ervaar nie.
Hulle eerste doelwit - om 'n voermenger vir die boerevereniging te koop - is pas bereik nadat 'n boer van Outeniqualand 'n groot komposstrooier aan hulle geskenk het.
Die strooier is gratis deur 'n ingenieursfirma in George omskep in 'n voermenger teen 'n koste van R30 000 vir die materiaal. Hiermee kan die boere die voerreste wat hulle ontvang, fyn genoeg maal vir skaap en die regte voermengsels maak, sê Muller.
Die groepie het al drie vragte mieliereste vanaf Wesselsbron laat aanry vir die boere van Nous-Wes. Hulle kon ook 300 lusernbale en 1 100 bale hawer op Augrabies aankoop wat reeds afgelewer is. 'n Boer naby Vierfontein in die Vrystaat het 900 lusernbale geskenk wat vir die boere van Pofadder se boerevereniging afgelaai is.
"Ons soek na nog voer asook mielies wat geskenk kan word of teen 'n billike prys aangekoop kan word. Kennisse en vriende in die Vrystaat help ons hiermee. Ons sal dit verwelkom as meer mense betrokke wil raak. Enige hulp word met dank aanvaar."
Theo Briekwa, 'n werknemer van South Cape Engineering, was verantwoordelik vir die meeste van die werk om die strooier in 'n voermenger te omskep. Foto: Alida de Beer
Hulle het ook al 84 omgee-pakkies, wat in 10 liter-emmers verpak word met nie-bederfbare items, na Boesmanland vervoer en uitgedeel aan boervroue en plaaswerkers. Nog 70 sulke pakkies is vandeesweek vir die plaaswerkers van Pofadder se boerevereniging geneem. Dit word moontlik gemaak deur skenkings van die plaaslike gemeenskap. Soms word items met van die fondse aangekoop. Die hoë vervoerkoste vat 'n groot hap uit die donasies wat hulle kry.
Muller beklemtoon dat hulle nie aan individuele boere hulp verleen nie, maar met boereverenigings skakel.
"Tans konsentreer ons op die boerever-eniging van Pofadder met ongeveer 45 lede. Elke sent wat ons invorder, word vir hulp aangewend, want ons betaal geen salarisse nie en gebruik ook nie daarvan vir administratiewe kostes nie. Ons pak hierdie projek aan in diepe afhanklikheid van ons Hemelse Vader.
"Ons kan Hom nie genoeg dank vir mense wie se harte en hande oop is nie."
Kontak Muller by 071 535 9922 of boerehulprsa@gmail.com vir meer inligting.
Plaaswerkers in Boesmanland wat van die omgeepakkies gekry het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'