MOSSELBAAI NUUS - Daar kon beswaarlik 'n beter persoon gewees het om as gasspreker op te tree by 'n onlangse damestee ten bate van die ZJ Hulpsentrum, as die inspirerende, 19-jarige student Sumarie Jordaan.
Sumarie het opslae gemaak met haar eerste Afrikaanse musiekvideo, Verander jou siening. Die musiekvideo is in Februarie vanjaar vrygestel en het in 'n japtrap met 100 000 trefslae gespog.
Die doel van die musiekvideo, is om 'n goeie boodskap aangaande gestremdhede te deel.
Sumarie het beperkte gehoor in beide haar ore en is serebraal gestremd aan haar linkerkant. Haar tweelingsuster, Elanza, wat ook die geleentheid bygewoon het, is 'n kwadrupleeg en moet van 'n elektriese rolstoel gebruik maak om rond te beweeg.
Volgens die eienaar van ZJ Hulpsentrum, Zettie Jonker, het Sumarie haar trefferliedjie, Verander jou siening se titel 'n werklikheid gemaak tydens die tee. "Dis presies wat sy vir die 156 vroue by die tee kom doen het. Haar boodskap was dat daar nie iets bestaan soos disabled nie, net differently abled."
Die oggend het begin met Sumarie se praatjie oor haar kinderjare. Tydens die gesprek, het sy baie gedeel aangaande die lewe van gestremdes in 'n poging om groter bewusmaking te skep.
"Dit was 'n wonderlike oggend, met soveel inspirasie van Sumarie af." Die geld wat ingesamel is, is ten bate van die ZJ Hulpsentrum se snoezelin of multisensoriese kamer. Dit kan beskryf word as a terapiekamer vir persone met outismespekturm en ander ontwikkelingsgestremdhede, demensie of 'n breinbesering.
"Baie dankie aan Zelda Erasmus vir al haar harde werk om die dag te beplan."
Sumarie Jordaan (tweede van regs) saam met haar nuwe aanhangers.
Sumarie en haar tweelingsuster, Elanza en van die gaste wat die geleentheid bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'