Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - "Vandag pluk julle die vrugte van 'n jarelange strewe na beter lewensomstandighede en 'n eie huis," het Mosselbaai se uitvoerence burgemeester, raadsheer Harry Levendal Donderdag, 7 September gesê toe die titelaktes van hul nuwe huise in Sonskynvallei deur die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, minister Bonkinkosi Madikizela, aan 19 oud-Powertown inwoners oorhandig is.
Minister Madikizela het gesê die oorhandiging van die huise spreek ook grondrestitusie aan. Die oudste begunstigdes is die 81-jarige Gert en Christine Lawack. In totaal is 19 titelaktes op Donderdag, 7 September oorhandig.
"My departement kan nie opgewonde wees oor die oorhandiging van 'n bewys van eienaarskap aan 'n 81-jarige inwoner nie.
"Niemand behoort só lank op 'n huis te wag nie. Dit kan nie reg wees dat mense wat onlangs eers in Mosselbaai gevestig het, bevoordeel word bo mense wat jare reeds op 'n behuisingswaglys is nie."
Die oudste van die 19 begunstigdes wat die titelaktes as bewys van eienaarskap van hul nuwe huise in Sonskynvallei op Sonderdag, 7 September van die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, minister Bonginkosi Madikizela (derde van regs, agter) en Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, ontvang het.
Die minister het die munisipaliteit gemaan om die behuisingswaglys só te bestuur dat die mees verdienstelike aansoekers nie benadeel word nie.
"Ek is baie beïndruk met die wyse waarop die inwoners wat vandag hier betrokke is, hul geskille oor die hervestiging van Powertown na Sonskynvallei bygelê het. Ek is baie tevrede met die werk wat die Mosselbaai-munisipaliteit doen en my departement sal voortgaan om hul werk te ondersteun.
"Die uitdaging is egter om seker te maak dat die behuisingswaglys korrek die behoeftes aanspreek," aldus minister Madikizela.
Op Sonskynvallei het die begunstigdes wat die titelaktes vir hul nuwe huise ontvang het, met breë glimlagte baie trots vertel dat hulle jare lank vir hierdie voorreg gewag het.
Kyk video hieronder.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'