MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit verbied die aansteek en afvuur van enige vuurwerke in die munisipale area.
Vuurwerke mag slegs afgevuur word indien vooraf toestemming verleen is na 'n formele aansoek gedoen is en mits die munisipaliteit 'n aangewese gebied vir die doel toegestaan het.
Inwoners en besoekers word versoek en aangemoedig om dié regulasies streng na te kom om vervolging te voorkom.
Guy Fawkes
Die Mosselbaai-munisipaliteit waarsku dat vuurwerke ook in die groter Mosselbaai tydens Guy Fawkes, 5 November, nie toegelaat word nie.
'n Algemene verbod op vuurwerke sal streng toegepas word.
Inwoners word daaraan herinner dat vuurwerke in die groter Mosselbaai verbode is. Die verordening verbied die afvuur van vuurwerke sonder die skriftelike goedkeuring van die munisipaliteit. Voorvalle moet by SA Polisie aangemeld word, kragtens die Wet op Plofstowwe kan die SAPD die persoon vervolg.
Vuurwerke, vuurwerkfakkels, papierlanterns en ander sodanige bykomstighede word as 'n groot brandrisiko beskou en word geensinds toegelaat in die openbare of privaat ruimtes in die munisipale area nie.
Die verkoop van vuurwerke is ook onwettig sonder 'n permit wat deur die SAPD aan die handelaar uitgereik is.
Geen aangewese areas
In Mosselbaai is daar geen aangewese areas waar vuurwerke sonder ‘n permit afgevuur mag word nie.
Papierlanterns hou dubbele gevaar in.
Benewens die risiko dat dit buite sig mag wegwaai, val en vlamvat in die droë veldtoestande, of op vlambare materiaal val voordat dit geblus kan word, vermors papierlanterns ook skaars hulpbronne wanneer reddingsdienste verkeerdelik op 'n 'noodgeval' reageer wanneer die papierlantern niksvermoedend as ‘n noodfakkel aangesien en gerapporteer word.
Oujaarsaand
Dit is eweneens onwettig om op Oujaarsaand vuurwerke of vuurwerkfakkels af te vuur of aan te steek.
Wees brandbewus
Enige vorm van vlam hou 'n bedreiging in. Terwyl vuurwerke, fakkels en lanterns uitgelig word, word inwoners versoek om verantwoordelik en brandbewus en -voorkomend op te tree.
Wees altyd uiters versigtig, maak slegs vure in beskermde en in aangewese gebiede en gooi sigaretstompies veilig weg.
Die Mosselbaai-munisipaliteit doen 'n dringende beroep op inwoners en besoekers om die vuurwerkverbod te respekteer. "Ons bedank u by voorbaat vir u samewerking en ondersteuning."
Meld asseblief die onwettige handel in vuurwerk aan by 044 606 5000.
Meld asseblief enige brande aan by 044 606 5000, of by die Mosselbaai Brand-, Redding- en Rampbestuursdienste by 044 691 3722 / 044 606 5121.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'