MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit se spesiale strandstoel vir gestremdes was vanaf 1 Desember beskikbaar vir gestremde persone om soos ander besoekers ook 'n bietjie lyf te kan natmaak in die see.
George Nezar (73), voorsitter van die Midbrak-belastingbetalersvereniging, het op 3 Januarie vir die eerste keer in 15 jaar in die see geswem danksy dié spesiale strandstoel.
"My skoonseun het my 15 jaar gelede by Hartenbos in die water gehelp en dit was die laaste keer wat ek in die see geswem het," vertel Nezar. Hy het op 10 maande polio gehad en het so agteruit gegaan dat hy reeds vir die grootste deel van sy lewe rystoel gebonde is.
Die strandstoel en 'n spesiale strandtoegangsmat is in November 2022 in ontvangs geneem en is op 23 November op Santosstrand gebruik toe 'n plaaslike gestremde, Patrick Saayman deur Craig Viljoen in die seewater geneem is.
Nezar se eerste keuse was Klein-Brakrivier wat ongelukkig verskeie logistieke uitdagings gebied het. Die alternatief was egter Glentana en dit was toe ook die eerste keer dat die strandstoel by hierdie blouvlag-strand gebruik is.
Lewensredders het Nezar tot op die strand gedra en hom toe saam in die water vergesel. Hy het die volgende aan Mossel Bay Advertiser gesê: "Dis 'n belewenis. Met die eerste brander het ek soutwater deur die neus gekry wat die sinusse oopgemaak het maar dit was 'n ervaring wat ek graag weer sal wil belewe".
Ook 'n 13-jarige gestremde meisie van Kaapstad, Cayley het tydens die feesseisoen die strandstoel op Santosstrand gebruik. Persone wat van die strandstoel gebruik wil maak, kan die munisipaliteit kontak.
Die drywende strandstoel bied gestremdes ook die geleentheid om die see te ervaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'