MOSSELBAAI NUUS - Nóg 'n eerste vir Mosselbaai is die gebruik van gevorderde tegnologie om strandtoegang vir gestremdes, asook ouer persone by Diasstrand te vergemaklik.
Wat op die oog af lyk na net nog 'n strandtoegang, is die resultaat van fyn berekening om die helling vir rolstoele net reg te kry, die draaipunte presies te pas en boonop dan by die veranderde strandvlakke aan te pas.
Die projek word gesamentlik befonds deur die departemente van beplanning en ekonomiese ontwikkeling (strate en stormwater) en omgewingsbestuur. Privaatbydraes van sowel individue en huiseienaarsverenigings van naasliggende ontwikkelings, asook fondse uit die betrokke wyksfonds is ontvang wat onder meer aangewend gaan word vir besproeiing sodat die duin waarop die nuwe toegang gebou is, behoorlik gestabiliseer kan word.
'n Verdere stukkie fyn vernuf wat vir die eerste keer op Mosselbaai ingespan is, is die gebruik van 'n ondergrondse filtrasiekamer (filtration chamber) waardeur die stormwater na die see herlei word. Op hierdie wyse word die water toegelaat om weer in die sand weg te syfer alvorens dit gewoon net weer op die strand uitspoel.
Hierdie rolstoelvriendelike toegang is vandeesweek formeel in gebruik geneem, net reg vir die komende vakansieseisoen.
Die projek, wat sowat R2.2m beloop het, behels onder meer 'n houtloopvlak in drie afsonderlike segmente wat met spesiale afwerking teen die elemente beskerm word. Die spesiale boumetodiek sal juis help om die struktuur in geheel teen golfskade te beskerm - 'n belangrike oorwegeging gegewe die huidige effek van die onlangse rowwe see op die strand.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'