Saterdagaand het Suid-Kapenaars saamgetrek by die Hartenbos Amfiteater om die Here te loof tydens die Suid Kaap vir Jesus byeenkoms.
Onder 'n oop sterrehemel het die skare, met die bekende musikant, Retief Burger saam gesing en hulle harte oopgemaak voor die Here.
Die droom van hierdie aand het ontstaan in 'n enkele man, Theo Otto van Herbertsdale, se hart.
Theo vertel; " Ek het op 18 April 2008 tot bekering gekom en dit is toe dat God letterlik my 'hart van klip' kom uithaal het en met `n hart van vlees vervang het."
Tydens die Mighty Men Conference in 2008 het Theo vir God gevra om hom in en vir Sy koninkryk te gebruik, want hy wil vir Hom werk.
"So het ek begin groei in my geloof en my verhouding met Jesus."
Laas April het twee mans van dieselfde kerk as Theo gereken dit sou lekker wees met Retief Burger saam te sing, sommer op `n plaas, en Jesus so te verheerlik.
"Die gedagte het by my vasgesteek en elke oggend as ek stilte tyd gehou het, het dit weer by my opgekom, tot die dag wat dit vir my gevoel het God sê: 'Wat is fout met jou? Hoekom doen jy dit nie?'"
"Ek het dadelik die uitdaging aanvaar, maar ek wou drie skrifgedeeltes hê waarin die woord 'sing' of 'besing' gebruik word vir bevestiging, omdat Retief sing."
God het drie dae na mekaar vir hom die skrifgedeeltes gegee: Psalms 146:2, 34: 3-4 en 138:4-5.
"Dis nie asof ek die Bybel so goed ken nie, dis letterlik asof iemand dit vir my sê, en my mond wil dit sê maar dis nie ek nie, dis die Heilige Gees wat dit doen."
Volgens Theo was die publiek maar skepties, baie mense het gedink hy is mal - waar gaan R115 000 vandaan kom vir net een aand.
"God het begin om besighede se name vir my te gee, maar buiten een het nie een van die 55 wat ek gaan besoek het, het `n bydrae gemaak nie.
Inteendeel, die geld van jan en alleman gekom wat te hore gekom het van wat hy beplan.
"Iemand van George het selfs uit sy eie `n rolbal dag gereël om te help met die fondse."
Die aand is begin met ‘n uitstaande bedrag van net R16 000 van die totale R115 000.
Maar die skare het gejuig toe Raadsdame Marie Ferreira aankondig dat sy 'n R10 000 donasie maak, en later die aand het 'n R6 000 donasie van 'n lid van die publiek gekom - die aand is ten volle befonds.
Ervaringe van die aand
"Mense het gesê dit was die beste aand van hul lewens en dat hulle vir die eerste keer hul lewens vir Jesus gegee het.
Die eerste vrou kon nie ophou huil terwyl sy my vertel hoe sy Jesus beleef het nie."
"`n Ander vrou het in haar geestesoog Jesus sien afloop teen die trappe met Sy hande uitgestrek na die mense. Baie sal dink sy is mal, maar as jou verhouding met God reg is en jy het die gawe om in die geestesdimensie te sien, kan jy dit sien, my eie suster sien engele en het al Jesus langs haar bed sien staan."
"Ek kan net vir God bedank want Hy het mense se harte aangeraak om bydraes te gee.
Die dankoffers of bydraes is vir Sy koninkryk. Weer eens, alles is vir God gedoen.
Mense het gelag en gespot en gesê julle gaan nat reën, maar God het die perfekte weer gegee."
"Soos oom Angus Buchan sê, 'I know the weather man, I am His son', ek is God se seun en geen pa sal sy kind in die steek laat nie en God nog minder.
Alle eer aan God. Ek kan nie uitgepraat raak oor hoe God voorsien het nie!"
.jpg)
Manne en vroue het saam vir mekaar gebid.
ARTIKEL EN FOTO'S: MELISSA HILLS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS