Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Coen Pretorius (74) is reeds vir 13 jaar afgetree, maar die gewese stoomtreindrywer gebruik nog daagliks sy kennis om stoomtreine en nuwe sneltreine reisgereed te maak en veilig te hou. Coen het in 1966 op 16-jarige ouderdom as 'n stoker begin werk.
Hy het homself oor die jare opgewerk in die spoorweë en hom bekwaam as drywer, inspekteur, hoofinspekteur en assessor van ketelveiligheid en stoomtreindrywer-veiligheid.
FOTOGALERY: Coen Pretorius gewese stoomtreindrywer
Mossel Bay Advertiser het met Coen by die Hartenbos-stasie gesels, waar hy help met die opleiding van oud-Spoornet drywers om die stoomtrein Amanda moontlik weer binnekort tussen Hartenbos en George te laat voortstoom.
Pretorius is ook betrokke met opleiding en assessering van stoomtreindrywers by Port Elizabeth, Ceres Rail in Kaapstad, Wonder Steam Trains in Pretoria, Creighton in Natal, Umgeni Steam in Natal en Sandstone Heritage in Ficksburg.
Coen Pretorius op een van die stoom-lokomotiewe tydens die Sandstone Kosmosfees.
Hy toets ook die vaardighede van die bekende Rovos Rail se stoomtreindrywers. Met sy aftrede het hy 'n besigheid begin waar hy sy uitgebreide kennis van treine gebruik.
By die groot treindepot by Dunnottar aan die Oosrand is Metro-Prasa besig met die bou van 665 nuwe elektriese treine. Volgens Pretorius is die werk aan 214 van die treine deur 'n Brasiliaanse maatskappy reeds voltooi.
Sy werk is om seker te maak dat die lokomotiewe aan al die vereistes voldoen om op die toetslyn binne 60-meter te stop. Gesels jy met Coen kan jy nie anders as om sy passie vir stoomtreine te beleef nie. Hy is een van die gelukkiges wie se werk ook sy passie en stokperdjie is. Soos hy sê, "stoom bly in jou bloed".
VIDEO - Stoomtreine is vir amper 60 jaar Coen Pretorius se passie, lewe en werk. Hy is ook betrokke by die opleiding van stoomtreindrywers vir 'Amanda' wat tussen Hartenbos en George gaan ry. Hy het met Mossel Bay Advertiser by die Hartenbos stasie gesels oor sy liefde vir stoomtreine (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'