MOSSELBAAI NUUS - Vir 'n inwoner van Hartenrus-aftreeoord is daar nie so 'n ding soos stilsit nie. Sy hou haar besig met verskeie projekte waarvan die grootste projek wat sy aangepak het, haar 'n hele paar maande besig gehou het.
Ethel Nel (76) se inspirasie het begin toe die regering almal in Covid-tyd 'n week gegee het om inkopies te doen voor die inperkings begin het.
"Ek het besluit dat ek nie stil gaan sit nie en het vir my baie wol gaan koop."
Daar en dan het sy begin met die kombers wat met kabelsteek in stroke gebrei is en waarvan die stukke toe aanmekaar gewerk is. Dit was harde werk en nou lê die kombers in 'n sak want dit is te warm hier om onder die lekker kombers te slaap. Sy gaan egter dat haar twee kinders lootjies trek oor die erfstuk. "Nooit weer nie," sê sy. As die breinaalde neergesit word, sal jy haar in die kombuis kry waar haar ander voltydse projek haar nog steeds besig hou... om konfyt te kook.
Met die afsterwe van 'n vriendin se man het die vriendin se seun gevra dat hulle Australië toe kom. So, gaan elke botteltjie konfyt se geldjies wat sy verkoop vir die toer wat beplan is vir 2024. Sy het reeds 'n aansienlike bedraggie al bymekaar gemaak en is steeds besig met die projek. Van appelkose, groen vye en wat ookal beskikbaar is, kook sy konfyt.
Asof die kombers en konfyt nou nie genoeg was nie, het Nel ook 'n boek geskryf. Dit na sy reeds twee keer brein-chirurgie gehad het en twee beroertes oorleef het.
"Dank die Here ek is gesond en hulle sal my voete moet vasspyker want daar bestaan nie so 'n ding soos stilsit by my nie," sê sy.
Almal word oud en volgens Nel is die belangrikste dat jy met waardigheid oud word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'