MOSSELBAAI NUUS - Twee Stilbaaiers, Alwyn Vorster en Branko Celica, het tydens verlede week se Suid-Kaap Sages-gholfdag op Stilbaai, behoorlik vir die 62 ander spelers ore aangesit in die jaarlikse Beterbal Stablefordkompetisie om die Hennie Huysertrofee.
Die suidwestewind het van vroegoggend lekker sterk begin waai en dit het later gevoel of 'n telling van naby 40 genoeg gaan wees om die trofee te wen.
Met hul telling van 46 was Vorster en Celica los voor almal uit en kan hulle met reg die windtemmers van die dag genoem word.
Die Stilbaai-gholfklub se gasvryheid is wyd bekend en die 64 spelers is vroegoggend al met 'n heerlike ontbyt getrakteer.
Baie dankie aan die administratiewe personeel van die gholfklub vir hul organisasie en puik reëlings. Dit bly 'n voorreg om daar te kan speel.
Uitslae
Die volgende pare het ook onder die bestes van die dag geëindig: 1. Alwyn Vorster en Branko Celica (Stilbaai) 46; 2. Rodney Page en Bruce Waldek (Stilbaai) 42; 3. Pine Pienaar en Piet van Wyk (Stilbaai) 42; 4. Daan Botes en Peet Duncan (Stilbaai) 41; 5. Stoffel en Breggie Maritz (Mosselbaai) 41; 6. Max Dockel en Daan Toerien (Stilbaai) 40; 7. Vince Bruwer en Danie Terblanche (Mosselbaai) 39; 8. Pieter Potgieter en Karel Lewis (Stilbaai) 38.
Die naaste aan die penne, geborg deur JC Slagtery van Riversdal, is gewen deur Chris Barnard van Mosselbaai op 2/11 en Stoffel Maritz op 8/17.
Die Suid-Kaap Sages se laaste byeenkoms is op 6 Desember op Riversdal wanneer die spelers gaan meeding om die Bertus Louwtrofee. Die wenner daar word beskou as die enkels-kampioen van 2022.
Wenners op Stilbaai: Rodney Page, Bruce Waldek, Pine Pienaar, Piet van Wyk, Nic Marais (voorsitter), Alwyn Vorster en Branko Celica.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'