MOSSELBAAI NUUS - Drie besondere sterk vroue in Mosselbaai is dit eens; hulle leierskapsposisies stel hulle in staat om juis meer geleenthede vir ander vroue teweeg te bring en om uit te reik na die weerloses in hul gemeenskap.
Met Vrouedag wat Woensdag, 9 Augustus gevier is, het die Mossel Bay Advertiser drie vroue in plaaslike leierskapsposisies gepols oor wat die verskil gemaak het dat hulle vandag as leiers op hul terrein erken en geag word.
Elk van die vroue erken hulle het as jong, selfs voortvarende jongmense geleenthede aangegryp om bo persoonlike omstandighede, geykte geslagsrolle en ander uitdagings uit te styg en het elke kans op sukses benut.
Vandag pluk hulle die vrug van hul opofferinge.
Voorkeurskoolhoof
"Vroue is harde werkers, gee 'n vrou 'n taak om te verrig en sy gee nie bes voordat dit behoorlik en korrek afgehandel is nie," sê Winifred Gwe, skoolhoof van Imekhaya Primêre Skool in KwaNonqaba.
Winifred het bo die geykte strukture uitgestyg ondanks die departementele beleid wat desjare haar huisgesin versplinter het.
"In daardie jare was dit departementele voorskrif dat 'n egpaar nie by dieselfde skool onderwys mag gee nie. My man, wat in Hermanus 'n skoolhoof was, wou hê dat ek my onderwys kwalifikasie moes aanwend. Daarom het ek 25-jaar gelede in Mosselbaai aangeland. My kollegas het sedertdien daarop aangedring dat ek adjunkhoof word, en uiteindelik, vele verdere kwalifikasies later, het ek tot die posisie as skoolhoof gevorder. Intussen het ek nooit opgehou om verder aan my opleiding te werk nie, ondanks die uitdaging wat enkelouerskap en twee jong seuns aan my gestel het."
Winifred Gwe, skoolhoof van Imekhaya Primêre skool.
Winifred Gwe is die trotse ma van Gift Gwe, wat in 2005 uitstekend presteer het in die televisie-program Idols. Sy meen die grootste uitdaging wat aan vandag se jong meisies en vroue gestel word, is om nie toe te gee aan tienerswangerskappe en drank- of dwelmmisbruik nie.
Daarom dat sy by haar kerk haar toewy aan jeugontwikkeling.
Landdros blink uit
Liticia Freeman, 'n boorling van Upington, beklee tans die nuutgeskepte senior landdrospos by die Mosselbaai-landdroshof en as vrou moet sy nou die septer in 'n eens mansgedomineerde omgewing swaai.
"Die senior landdrosposisie is nuut geskep toe die landdroskantoor se status opgegradeer is. Die pos bied vir my as vrou en regsgeleerde die platform om die verandering wat ek graag wil sien in hoe die gewone mens die hof ervaar, deur te sien."
Ook sy werk hard daaraan om haar kundigheid en ervaring in haar gemeenskap terug te ploeg deur gereeld gesprekke te voer met vroue vir wie die regstelsel eens 'n geslote boek was. Sy sê te veel vroue is steeds te bang om hul reg op menswaardigheid op te eis en die hof en regstelsel se hulp te vra om teen gesinsgeweld en drank- en dwelmmisbruik in hul huise op te tree.
Uitnemende sakevrou
As boorling van Mosselbaai wat haar grootwordjare as die kind van een van die plaaslike vissersmanne in 'n huisie langs 'n grondstraatjie by die Punt deurgebring het, het Marika Thomatos 'n sakeryk in Mosselbaai uitgebou tot waar sy vandag allerweë erkenning geniet as een van die voorste vroue in besigheidskringe.
Sy meen die jeug, veral jong meisies moet hul jeugdige uitbundige voortvarendheid aangryp, kanse neem en amper gulsig elke geleentheid vir selfontwikkeling benut. In haar besigheid wat volgens familietradisie en -beginsels bestuur word, is die personeelomset baie laag omdat almal tot hul volle potensiaal ontwikkel en aangemoedig word om by te dra tot die sukses van die persoonlike diensingesteldheid waarop sy baie streng aandring.
Marika Thomatos, besigheidskenner en eienaar van verskeie akkommodasie-instellings.
Haar een les in besigheid, sê sy, is om nederig te bly en nougeset te werk aan die doelwitte wat jy vir jouself stel, ongeag of dit op persoonlike of besigheidsvlak is.
Lees meer oor hierdie formidabele vroue op bladsy 15 van vandag se Mossel Bay Advertiser koerant.
ARTIKEL & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'