Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die jaarlikse Interskole tussen Hoërskool Punt en Langenhoven Gimnasium het weer die beste van die skole se verskillende sportspanne teen mekaar gehaal. Die mededinging was besonder straf en dit is goed ondersteun waar die paviljoen van Langenhoven op Oudtshoorn volgepak was.
Die Interskole het gevolg op 'n week van heerlike spanbou en leerders van Punt het in aanloop aan verskeie ander prettige aktiwiteite deelgeneem.
FOTOGALLERY: Interskole tussen Hoërskool Punt en Langenhoven Gimnasium
Punt se rugbyspanne het hulle harte uitgespeel en drie van die wedstryde gewen, twee is gelykop gespeel en twee, waaronder die o.19 A-span se wedstryd, is verloor.
Die netbalspelers het net so hard gespeel ná maande se intense oefening en altesame ses wedstryde gewen en twee verloor. Die o.18 A-span het hulle wedstryd teen Gimmies met 'n telling van 34-32 gewen.
Punt se hokkiespelers het net so goed vertoon en het vyf wedstryde gewen, drie verloor en twee is gelykop gespeel.
Die eerste seunsspan het gewen met 'n telling van 2-0 en die eerste dogterspan het na 'n boeiende stryd met 0-1 die knie gebuig.
Punt se skoolhoof, mnr Adolf Gouws (links), klink 'n glasie op sy skool se prestasie.
Hierdie leerders het besoekers met hulle uitsonderlike dansbewegings en ritme by die Interskole beïndruk.
Leerders van Punt het 'n vis gevorm in 'n week van geesvang voor die interskole teen Gimmies in Oudtshoorn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’