MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai Munisipaliteit het met spyt kennis geneem van twee gevalle waar minderjariges verdrink het en waar besoekers en inwoners die slagoffers van misdadigheid was.
Inwoners en besoekers word gevra om veiligheid altyd eerste te stel.
Verdrinkings
Die Uitvoerende Burgemeester, Raadsheer Harry Levendal, het sy meegevoel uitgespreek met die familie en vriende van twee kinders wat weens verdrinking dood is.
‘n Tweejarige het op 23 Desember by ‘n huis in die Pinnacle Point-woonbuurt verdrink.
Op Kersdag het ‘n agtjarige by die Suiderkruiskampeerarea verdrink.
“Ons versoek dat mense net sal swem waar lewensredders aan diens is en dan ook net in die afgebakende areas. Dit is in strandgangers se belang om te alle tye lewensredders se instruksies te gehoorsaam,” sê die munisipale woordvoerder, Colin Puren.
Misdadigheid
Na ‘n aanval op 24 Desember op twee Switserse besoekers by Blue Waters-gebied tussen Diasstrand en De Bakke word almal weer eens aangeraai om hierdie strandgebied te vermy. ‘n Kennisgewing op die betonblok dui aan waar die gevaararea is.
“Mosselbaai-munisipaliteit sal voortgaan om inligting beskikbaar te stel en inwoners en besoekers word versoek om gehoor gee aan die waarskuwings.”
Drank
Drank speel ‘n steeds ‘n groot rol in onlangse padongelukke en ‘n dringende beroep word weer eens gedoen op motoriste om nie te drink en te bestuur nie.
“Selfs ‘n klein hoeveelheid drank kan aanleiding gee tot ‘n kriminele rekord. Die Munisipale Bestuurder, Adv Thys Giliomee, vra inwoners en besoekers om die padreëls en munisipale verordeninge, ook die verbod op die afvuur van enige vuurwerke, die verbod op ‘n geraasoorlas, die verbod op drank op die strande, en dies meer na te kom,” aldus Puren.
Strande
Kakkerlakgif in klein bloukleurige pakkies met oosterse skrif daarop het op verskeie strande uitgespoel. Die pakkies kan hanteer word, maar moet nie oopgemaak word nie en moet ingehandig word by Mosselbaai-munisipaliteit om gepas vernietig te word. Die gif moet nie saam met ander vullis weggedoen word nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'