Steelfoto met 'n storie

Jacolein Dorfling se foto van John Pike in 2016 het baie lof ingeoes.

Vandeesweek, het 'n foto van 'n bejaarde man op 'n bromponie en die inskrywing daarby, gepos op een van Mosselbaai se gewilde gemeenskaplike facebookblaaie, heelwat reaksie ontlok.

MOSSELBAAI NUUS - Te midde van al die kaalkopnuus wat sosiale medianetwerke oorheers, is daar tog ook goedvoelstories wat mense weer laat asem skep. 

Vandeesweek, het 'n foto van 'n bejaarde man op 'n bromponie en die inskrywing daarby, gepos op een van Mosselbaai se gewilde gemeenskaplike facebookblaaie, heelwat reaksie ontlok.

Gerrie Conradie van Danabaai het haar dogter Jacolein Dorfling van Pretoria se foto op die blad geplaas met die inskrywing: "Geagte vreemdeling... of 'Delivery man' soos ek jou gedoop het. Baie dankie dat ek verlede jaar 'n 'skelmfoto' van jou kon neem in Marshstraat, Mosselbaai."

Sy skryf verder dat die foto die resultaat van 'n fotoprojek by haar fotografieklub was. "My fotoprojek waarmee ek besig was, was street photography. Hierdie steelfoto van jou het baie goed gedoen by die NPC- fotografieklub in Pretoria." 

Sy sluit haar inskrywing af dat sy die man graag sou wou opspoor om 'n afdruk van die foto vir hom te gee as 'n blyk van waardering.

Onmiddellike reaksie
Mosselbaaiers wat die pos gesien en die man herken het, het hom geëien as John Pike, bekend as Jonty. 'n Swaer van Pike het bevestig dat hy vroeër vanjaar oorlede is. Hierop het verdere inskrywings in reaksie gevolg. Die Mossel Bay Advertiser het enkeles hiervan opgevolg.

Kelvin Muller van Civic Park Auto Spares in Mayixhalestraat, KwaNonqaba sê oom Jonty het gereeld by hom gekuier, vir die afgelope paar jaar al. "Dan het ons aan die oorkant van die straat 'n bietjie geputt.

"Sy begrafnisbriefie is nog hier by ons opgeplak."

'n Ander inskrywing deur Pieter Snyders van Heiderand, 'n werknemer by die Mosselbaai korrektiewe jeugsentrum lees dat oom Jonty jarelank by hom tuinwerk gedoen het. "Die oom het altyd by die kerk oorkant my gewerk en later by my ook ingeval. Hy het altyd steggies gehad en gevra of hy dit in my tuin kon plant. Dan het hy weer soms plantjies gevra vir sy groentetuin as ons by die tronk aanplant."

Pieter meen oom Jonty was regtig goed met tuine, maar het later ophou werk vanweë 'n rugprobleem. "Hy was mal oor visvang. Hy het sommer met sy visstok so op sy scooter gery."

Te laat
Jacolein Dorfling het Woensdag uit Pretoria vir haar ouers kom kuier. "Dis presies 'n jaar sedert daardie foto geneem is. Ek en my ma was daardie dag op 'n missie om iemand te kry wat ek kon afneem." Sy sê sy't gesoek na iemand met karakter. "Dit moes wys in hulle hande of op hul gesigte." Sy en haar ma het die dorp deurkruis.

Toe hulle by 'n verkeerslig in Marshstraat stop, sien haar ma, Gerrie dié man op die bromponie in haar truspieëltjie en sê vir Jacolein "daar's jou karakter".

"Ek het sommerso by die venster uitgehang, die kamera op sport mode gesit en net aanhou neem."

Hulle is beide kennelik spyt dat hulle John Pike nie voor sy dood opgespoor het nie. Wat tydens dié ma en dogter se gesprek met die Advertiser ironies genoeg verder aan die lig gekom het, is dat oom Jonty op Gerrie se verjaarsdag, 19 Maart oorlede is.

"Hierdie gebeurtenis het my net weer laat besef - as jy iets wil doen, moet jy dit doen. Nou is dit te laat."

ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'


Your comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser