MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt se Starganza-finaliste het op 13 April Onse Rus-tehuis in Mosselbaai besoek. Hier het me Tania de Kock die storie van Paasfees vertel terwyl die finaliste Paaseiers aan die inwoners uitegedeel het.
"Ons wil baie dankie sê aan Hoërskool Punt se leerders wat deel was van die insamelingsprojek van Paaseiers vir hierdie projek," het 'n Punt-woordvoerder gesê.
Punt-leerder Nina Stemplewski het gesê: "Ons was verwelkom met oop arms en warm glimlagte. Die susters en personeel wat betrokke is by die sorg van die bejaardes was vreeslik oulik en behulpsaam.
"Soos ons die Paaseiers uitgedeel het, het ons met swaar harte deurgeloop en tot 'n besef gekom dat ons ons jongdae nie vanselfsprekend moet neem nie.
"Die uitstappie het dus verseker die bejaardes gelukkig gemaak. Ek sal enige tyd weer terug gaan om te kuier en geselskappies met die personeel en bejaardes te voer."
Leerders, Ruan Marcus en Carla Smit het gesê: "Ons het die voorreg gehad om op 13 April Onse Rus-tehuis te besoek. Dit was 'n baie emosionele ervaring gewees en het ons laat besef hoe belangrik dit is om ons jeug te geniet, want dit gaan in 'n oogwink verby.
"Dit was so lekker gewees om te sien hoe baie hulle ons besoek waardeer het. Baie dankie aan Hoërskool Punt en Onse Rus-tehuis wat die ervaring vir ons moontlik gemaak het."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'