Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die bekende Orcas of Moordwalvisse, Starboard en Port, is sedert gistermiddag weer in die Mosselbaai-area en is gister waargeneem waar hulle 'n haai gejag en aangeval het.
Die Orcas is só gedoop omdat die een se dorsale vin na links wys en die ander een se vin na regs wat uniek is aan hulle.
Die twee is volgens inligting vir die eerste keer in 2015 naby Kaapstad opgemerk. Anders as ander Orcas is Starboard en Port bekend daarvoor dat hulle naby aan die kus jag.
Walviskykers was verras om die twee in die baai naby Rob-eiland, te sien baljaar. Volgens Christiaan Stopforth van Drone Fanatics, wat die twee van 'n boot af verfilm het, het die Orcas jag gemaak op 'n groot witdoodshaai van 2.5-meter.
FOTOGALERY: Orcas of Moordwalvisse, weer in Mosselbaai
'n Ander witdoodshaai-karkas van 2.9-meter het vanoggend op die strand by die Hartenbos-riviermond uitgespoel. Volgens Nico Booyens, marine-bioloog en direkteur van die Haai-Navorsingsinstituut in Mosselbaai, kon hulle deur vin-identifikasie bepaal dat dit twee verskillende witdoodshaaie is.
VIDEO: Nico Booyens, dir. Haai-instituut in Mosselbaai
Die karkas wat vandag gevind is, gaan binnekort deur die Department van Visserye en Bosbou gedissekteer word om die presiese oorsaak van dood vas te stel.
Booyens sê dat die Orcas wat haaie aanval 'n natuurlike verskynsel is, maar dat die verlies van die bedreigde groot witdoodshaaie, kommerwekkend is.
Volgens hom het die witdoodshaaie wat gewoonlik in die area is, reeds uit die gebied beweeg.
Starboard en Port is ook nie weer gesien nie, maar dit kan aan die stormagtige see toegeskryf word.
Die groot witdoodshaai het vanoggend by die Hartenbos lagoon uitgespoel. Die haai is waarskynlik Sondag deur die Orcas (moordwalvisse) aangeval.
Foto's: Christiaan Stopforth - Drone Fanatics
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’