Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Tim du Preez en Gladys Kannemeyer was gister, 14 Oktober die hoofrolspelers in hulle eie sprokiesverhaal toe dié twee na 10 jaar van ogies maak, uiteindelik die knoop deurgehaak het.
Tydens die seremonie by Benevolent Park waar hulle albei woonagtig is, is daar vrolik gesing, lekker gelag en plek-plek ‘n traan weggepink toe die egpaar in die huwelik bevestig is.
Volgens Kitty Thiele, bestuurder van die aftreeoord, was sy so aangegryp toe Tim (62) en Gladys (75) haar onlangs van hulle groot liefde vir mekaar vertel, dat daar summier besluit is om hulle in hull voorneme om te trou, by te staan.
Thiele het genoem dat beide ook baie siek was tydens die Covid-19-pandemie. Beide is rolstoelgebonde.
Voor hulle in die huwelik getree het, is hulle eers deur die tersaaklike departement geassesseer om te verseker dat hulle huweliksbootjie sonder sukkel die spreekwoordelike rooskleurige sonsondergang sal invaar.
Gladys het pragtig gelyk in haar trourok en helpers het gretig nadergestaan om die lang sleep agter haar rolstoel telkens reg te trek. Tim was waardig en trots tydens die seremonie. Beide het gesê dat hulle baie, baie dankbaar is oor dié besonderse dag.
Kyk 'n video hieronder:
Geseël met 'n soen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'