MOSSELBAAI NUUS - Dokters se spreekkamers is grafstil sedert die inperking in Maart begin het. Gesondheidspraktisyns en dokters sê behalwe dat mense tydens die inperking versoek is om slegs dokters te besoek vir 'n noodgeval, is baie ook bang om Covid-19 by spreekkamers op te doen.
'n Dokter in Hartenbos het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hulle sien nou baie minder pasiënte per dag, maar sit egter steeds met personeel wat aangestel is om groot getalle te moet kan hanteer. "Die inkomste wat ons nou verdien is baie minder as wat ons uitgawes is."
Nog 'n dokter wat by 'n spreekkamer werk waar pasiënte sonder 'n afspraak kan instap, sê hulle het altyd tot 20 pasiënte per dag gesien, maar sedert die inperking sien hulle slegs tussen vier en ses pasiënte per dag. "Ons het voor die inperking per uur geld verdien, maar verdien nou slegs 'n sekere persentasie van die dag se totale inkomste. Mense hoef nie bang te wees nie, ons tref die nodige voorsorgmaatreëls," sê die dokter.
Mediclinic Suid-Afrika het onlangs op sosiale media gesê hulle maatreëls sluit 'n streng beleid en prosedure in om die risiko van die verspreiding van Covid-19 te beperk. Die raad vir gesondheidsberoepe in Suid-Afrika sê nie-noodsaaklike besoeke aan huisdokters word nie toegelaat nie, en dat dit daartoe gelei het dat minder mense nou dokters besoek.
Hierdie drastiese daling aan besoeke word beslis aan dokters se sakke gevoel.
"Al voel die pasiënt nie goed nie, moedig die nasionale instituut vir oordraagbare siektes en die departement van gesondheid aan dat pasiënte tuisbly, behalwe as hulle so siek word dat hulle moet reis vir mediese hulp." Die pasiënt moet dan verkieslik eers die spreekkamer bel voordat hy of sy op pad is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'