Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees het na 13 dae se aktiwiteite bewys sport vier hoogty in die Mosselbaai-omgewing. Verskeie sporthoogtepunte is nog gedagboek om feesgangers en sportlui te vermaak.
Die fees eindig op Dinsdag, 16 Oktober met die wegspring van die Cape Pioneer Trek-bergfietsren.
Die afgelope naweek was klawerjas, gewigoptel, T20-krieket en 'n massa-fietsryrit van die hoogtepunte op die program. Vandag, Woendag 26 September sal sportgeesdriftiges by die Van Riebeeckstadion saamtrek om atletiek vir persone met gestremdhede, asook laerskole netbal te aanskou. Canasta sal by Seeplaas-restaurant plaasvind.
Donderdag gaan die seile behoorlik gespan word, met die Simonstad tot Mosselbaai-seiljag wat by Santosstrand eindig.
Die naweek is propvol sport, met top 10 skole-atletiek, 'n pretstap, veerpyle, Hartenbos-parkrun, skaak, 'n krieketfees by Hoërskool Punt, motorsport, netbal, valskermspring, tennis en dominoes.
Behalwe vir sportitems wat op die amptelike feesprogram gedagboek is, word feesgangers ook vermaak met ander sportgeleenthede, soos die Kaalvoet en Sokkies-rolbaldag wat in Groot-Brakrivier aangebied is, asook die SuperSport Let's Play laerskole-rugbyfees wat die afgelope naweek plaasgevind het.
Organiseerders van die Kaalvoet en Sokkies-rolbaldag. Foto: Christo Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'