MOSSELBAAI NUUS - Dis voortaan heeltyd speeltyd in Civic en Highway Park, danksy ‘n netbal- en tennisbaan wat vandeesweek daar geopen is.
Raadsheer Niklaas Booisen het op Dinsdag, 6 Junie, by die opening van dié fasiliteite gesê vir hom was dit ‘n lankgekoesterde droom en kan daar in Civic Park en Highway Park behoorlik gespeel word.
By die weeklikse Dinsdagbesoeke van die burgemeesterskomitee, is daar vandeesweek by die nuwe baan besoek afgelê. Netblaspelers was met oorgawe besig om die baan in te wy en selfs die burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, en die munisipale bestuurder, Colin Puren, het probeer om ‘n paar doele te gooi. Ook een van die buurt se honde het ‘n draai op die baan kom maak om te sien waaroor al die opgewondenheid gaan.
Raadsheer Booisen, portefeuljevoorsitter van gemeenskapsdienste, is ‘n groot sportliefhebber en verduidelik dat die nuwe netbal- en tennisbaan ‘n baie groot leemte in die woongebiede van Civic Park en Highway Park gaan vul. Hy het verduidelik dat die twee woonbuurte so uitgelê is dat dit eintlik nie voorsiening maak vir die ontwikkeling van sport- en ontspanningsfasiliteite nie. Waar die baan tans is, is die enigste oop area wat boonoop dié twee woongebiede verbind. Raadsheer Booisen sê hy droom alreeds van die toekomstige sportdae wat dié twee gemeenskappe sal saamvoeg.
Die projek gee gestalte aan die Raad se visie vir maatskaplike hernuwing, wat deel vorm van die oorkoepelende GROEI-strategie vir Mosselbaai.
Direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel, noem dat die behoefte aan ‘n sportfasiliteit reeds in 2017 deur die gemeenskap geïdentifiseer en deur raadsheer Booisen gedryf is. Daar is by verskeie departmente aansoek gedoen om befondsing te kry vir die projek, maar sonder sukses. Verder, het die COVID-19-pandemie ook ‘n vertraging van ongeveer twee jaar meegebring, maar die nodige kapitaal is uiteindelik op die munisipale begroting gevind om die projek te voltooi. ‘n Verdere stok in die speke, was dat dié projek drie keer op tender moes gaan voordat ‘n kontrakteur aangestel kon word.
Die projek is binne 60 dae vanaf konstruksie begin het, afgehandel.
Die koste verbonde aan dié projek het nagenoeg R760 000 beloop.
Die opening van ‘n netbal- en tennisbaan in Civic en Highway Park, is sedert 2017 in die beplanning.
Die munisipale bestuurder, Colin Puren waag sy hand daaraan om ‘n doel te gooi.
Netbalspelers saam met raadsheer Niklaas Booisen, wat hulle droom help bewaarheid het en raadsdame Rosia Ruiters, in wie se wyk die fasiliteit val.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’