MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees word vanjaar vir die tiende keer aangebied. Dié fees, gefasiliteer en ondersteun deur die Mosselbaai-munisipaliteit, begin vanjaar op ‘n hoë noot met die Burgemeestersgholfdag op 8 September.
Hierdie gholfdag, ook reeds in sy vyfde jaar, word ten bate van die Burgemeestersfonds aangebied.
Gholfdag ‘n wen-wen
Soos verlede jaar, is dit nie net gholfers wat aan hierdie kalenderhoogtepunt kan deelneem nie. Vanjaar sal daar weer genommerde gholfballe as deel van die fondsinsameling verkoop word teen R100 per bal.
Die balle word vanuit ‘n helikopter gegooi en die bal naaste aan die gaatjie op ‘n bepaalde bof, wen prysgeld wat bepaal word deur die aantal balle verkoop. Kontak Ronèll du Toit (rdutoit@mosselbay.gov.za of 044 606 5000) vir meer inligting.
Massastaptog
Die gewilde MossMarch wat vanjaar weer as ‘n strandstaptog aangebied word, word op 9 September in samewerking met die Hartenbos Seefront gehou. Soos die vorige jaar, word lede van die gemeenskap aangemoedig om in getalle aan die staptog deel te neem. ‘n Groep rolstoeldeelnemers gaan ook aan vanjaar se geleentheid deelneem.
49 Sportkodes tot dusver
Tot dusver, sal 49 sportkodes by die Sport- en Rekreasiefees te siene wees met die vooruitsig dat nog ‘n paar bygevoeg kan word. Organiseerders het vandeesweek hulle finale aansoeke gebring en dus sal die feeskalender eersdaags beskikbaar wees. Die fees loop vanjaar op 22 Oktober ten einde. Bo en behalwe die ou gunstelinge soos padwedlope, karate, atletiek, boks, rolbal, krieket, gimnastiek, hokkie, rugby, netbal, tennis en nog vele meer, is daar ook ‘n maar nuwe opsies op die sport- en ontspanningspyskaart vanjaar. Dit sluit boogskiet asook ‘n jaggeweerskietkompetisie, stoei, toutrek en ‘n kompetisie vir Mosselbaai en omgewing se blaasorkeste in.
Een van die hoogtepunte van die fees, is die terugkeer van die Toughest Firefighter Alive -kompetisie. Die kompetisie is verlede jaar met groot sukses aangebied en het ‘n rekordgetal inskrywings opgelewer, soveel so dat dit vanjaar oor drie dae aangebied sal word vanaf 5 tot 7 Oktober.
Wen met raakrugby
Een van die Sport- en Rekreasiefees se groot trekpleisters is die raakrugbytoernooi waartydens gesamentlike prysgeld van R22 500.00 gewen kan word deur die top ses spanne. Die toernooi, wat op 15 September gehou word by die D’Almeida-sportgronde, word vanjaar vir die eerste keer deur Mosselbaai Toerisme en Hydrolyte Ultra Sport Drink geborg.
Slegs spelers 16 jaar en ouer mag deelneem. Geselekteerde spanne sal op 13 September 2023 in kennis gestel word of hul aansoek om deelname goedgekeur is. Vir inskrywings en meer inligting, kontak Tracey Groenewald (044-606 5000 of tgroenewald@mosselbay.gov.za).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’