MOSSELBAAI NUUS - Na aanleiding van 'n berig oor die aardwolf wat op die Aalwyndalpad doodgery is, is verskeie klagtes op sosiale media ontvang oor motoriste wat die spoedbeperkings op hierdie pad verontagsaam.
Die meeste klagtes kom oor Aalwynweg en Klipheuwelweg wat strek oor 'n afstand van bykans 20km.
Vanaf die kruising by die Langeberg Mall tot en met die Mosselbaai-vliegveld, bestaan die area hoofsaaklik uit landbouhoewes. Verskeie van die inwoners hou ook huisdiere aan wat soms in die pad beland.
Die hele gebied is egter omring deur plase wat hoofsaaklik uit ruigtes, fynbos, klowe en bosse bestaan.
Buiten die gevaar dat rondloperdiere op die bestaande paaie-netwerk voorkom, kom daar ook gereeld en veral in die nag wilde diere vanaf die bebosde gebiede na die woongebied op soek na kos.
Verskeie wildsoorte word dan veral in die nag in die woongebied opgemerk.
Hase, bokkies, skilpaaie, slange, jakkalse, uile en baie ander nagdiere word gereeld op die paaie doodgery.
Diereliefhebbers vra dat daar spoedhobbels opgesit word maar ander sê weer dat die probleem by die houding van sekere motoriste lê. 'n Skilpad kan met 'n spoed van 10km/h ook doodgery word.
Die onus berus by die motoriste om bykomend tot die spoedgrens ook die dierelewe in ag te neem en daarmee ook skade aan hulle voertuie vermy.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'